Takke val heining flenters, ‘munisipaliteit doen niks’
Na amper 'n dekade van smeek en niks wat gedoen word nie, het 'n probleem-boom toe geval.
“Ek hou van West Village, dis stil en rustig en ons ervaar nie regtig misdaad nie.”
Maar sedert ‘n tak van ‘n groot boom vier weke gelede in hul erf geval het, is Amanda Mostert bekommerd. “Ons het nie meer ‘n heining nie en ons is ‘n nou oop teiken,” het sy vertel.
Nadat Amanda byna ‘n dekade lank Mogale City Plaaslike Munisipaliteit gevra het om die takke van die groot boom voor hul huis te snoei, het sterk wind van die takke afgeruk en groot skade aan haar heining veroorsaak.
“Die munisipaliteit het niks gedoen nie. Daar word net vir my gesê iemand sal uitkom, maar jare lank gebeur niks nie,” het sy gesê.

Amanda se buurman het al ‘n brief aan die munisipaliteit geskryf om te vra dat die boom óf verwyder óf gesnoei word. Toe daar wel iemand opdaag, is vir hom gesê hulle kan nie die boom hanteer nie omdat dit nie voor die klaer se erf staan nie.
“Nou is my erf blootgestel aan gevaar en ons het reeds drie gevalle gehad waar inbrekers in die erf kon inkom,” het Amanda vertel.
DA-raadslid Matthys van Tonder het Amanda aangeraai om eers die groot takke te verwyder voordat sy ‘n eis vir die skade by die munisipaliteit indien.
“Ek sukkel nou om die takke te verwyder. Iemand het my R3 500 gevra om dit te verwyder. Moet ek hiervoor betaal?”
Amanda en haar familie spandeer nou meeste van die tyd agter in die huis, want hulle vrees die dag wat die wind weer woes waai en die hele boom op die huis se dak val.
“Ek is regtig keelvol, maar ek weet nie meer wat om te doen nie,” het ‘n moedelose Amanda gesê.
Lees ook:
• Swembad heropen – net as reën kom
• [PHOTOS; VIDEO] EFF answers West Village’s cry for help
• Residents burn tyres because Mayor a no-show
