Jong sportman wen stryd teen aggressiewe beenkanker
Die 12-jarige Laerskool Krugersdorp-Noord-leerder Reagan Fauré is kankervry en berei voor vir sy laaste chemoterapiesessie nadat hy verlede jaar met Ewing-sarkoom gediagnoseer is.
Die lewe van Reagan Fauré (12) en sy familie is verlede September ingrypend verander toe hy met Ewing-sarkoom, ‘n aggressiewe vorm van beenkanker, gediagnoseer is.
Byna ‘n jaar later is Reagan kankervry en gereed vir sy laaste onderhoudschemoterapiesessie op 11 en 12 Augustus.
Volgens sy ma, Alida, het die gesin aanvanklik gedink Reagan het bloot ‘n spier beseer terwyl hy krieket en hokkie gespeel het.
“Die diagnose was ‘n geweldige skok. Dit is iets wat geen ouer ooit verwag nie,” vertel sy.
Alida sê die afgelope maande was emosioneel en finansieel uitdagend. Besoeke deur familie en vriende moes beperk word om Reagan teen infeksies te beskerm, terwyl sy ná die verlies van haar werk voltyds na hom kon omsien.
“Dit is ‘n baie moeilike pad, maar met ons geloof en die krag van ons Hemelse Vader is ons waar ons vandag is.”
Sy voeg by dat die siekte ook ‘n groot impak op Reagan se sewejarige sussie gehad het, wat nie altyd verstaan het waarom haar ma en broer soms vir weke lank nie tuis was nie. Sy ontvang tans ondersteuning by ‘n sielkundige.
Alida beskryf Reagan as ‘n liefdevolle seun met ‘n sterk geloof.
“Hy gee vir óns moed wanneer ons moeg raak en vra dan: ‘Mamma, kan ons bid?’ Hy glo vas gebed maak alles beter.”
Voor sy diagnose was Reagan passievol oor krieket, hokkie, hoogspring, visvang en skiet. Die afgelope 11 maande was hy egter meestal tot die huis beperk.
“Dit is nie maklik om ‘n 12-jarige seun vir 11 maande binne die huis te hou nie. Reagan is ‘n buitekind.”
Volgens Alida was die gewas baie aggressief, maar dokters kon dit, saam met ‘n gedeelte van sy fibulabeen, in Februarie suksesvol verwyder.
“Reagan is kankervry, maar volgens die behandelingsprotokol moet hy nog agt onderhoudschemoterapiesessies voltooi. Hy het reeds die meeste daarvan afgehandel en voltooi sy laaste sessie binnekort.”
Hoewel die mediese fonds ‘n groot deel van die behandeling dek, moet die gesin steeds talle bybetalings self dra. Ná die chemoterapie sal Reagan gereelde skanderings moet ondergaan en in September weer geopereer word om ‘n skroef uit sy been te laat verwyder.
Die gesin het ‘n BackaBuddy-veldtog begin om met die mediese uitgawes te help en is dankbaar vir die ondersteuning wat hulle reeds uit die gemeenskap ontvang het.
“Vriende en familie se harte is oop. Woorde is nie genoeg om almal te bedank wat ons gehelp en ondersteun het nie. Ons is innig dankbaar vir elke gebaar van omgee,” sluit Alida af.
