Vrouemishandeling: was die hof regverdig?
Tydens 16 Dae van Aktivisme, het 'n plaaslike slagoffer na vore gekom met haar verhaal.
Wat maak jy as jy in die hof verskyn met geen regsverteenwoordiging nie?
“Ek het die saak verloor,” het ‘n vrou van Mindalore, wie se identiteit beskerm word, vertel toe sy ‘n aanrandingsaak na die eerste hofverskyning teen haar eksman verloor het.
“Ek is nie gevra of ek regsverteenwoordiging het of wil hê nie. Die hofprosedures het net voortgegaan.”
Die vrou het in Oktober ‘n saak van aanranding by die polisiestatsie aangemeld. Kort daarna is twee kostables uitgestuur na haar huis om meer inligting te kry. Sy is toe per sms laat weet dat sy op 20 November in die hof moet verskyn.
“Die ondersoekende beampte het vir my gesê ek moet maar hof toe gaan en kyk wat gebeur,” sê sy.
Dit sou die eerste keer wees wat sy in die hof getuienis sou aflewer en sy het nie juis geweet wat om te verwag nie.
“Ek kon volgens die hof nie bewys dat ek aangerand is nie en my eksman het as ‘n vry man by die hof uitgestap.”
Sy het, soos sy die trane teen haar wang afvee, verduidelik dat dit nie die eerste keer was dat sy aangerand is nie, maar dat dit wel die eerste keer is dat sy die moed gehad het om teen die aanranding op te staan.
Christo Swart, hoof van die Regsfakulteit aan die Southern Business School, het by navraag aan die News verduidelik dat daar ‘n regsplig op die hof en amptenary rus om ‘n persoon by te staan wanneer hulle in die hof gaan verskyn en die persoon oor geen regsverteenwoordiging beskik nie.
“Soms kan so ‘n ongelukkige geval voorkom, maar dit is raar want die hof staan oor die algemeen baie beskermend teenoor vroue en kinders se welstand,” meen hy.
Die vrou wil graag die saak nie daar los nie.
“Ek het gevoel of almal weet wat aangaan behalwe ek. Dit was ‘n vernedering,” sê sy.
Sy wonder hoeveel ander mense al deur so ‘n proses is en toe besluit het om op te gee. Sy is bang dat daar eendag niks aan iemand gedoen gaan word wat aan ‘n vrou slaan nie.
Verwante artikels:
• Police all in for 16 Days of Activism
• 16 Days of Activism Against Women and Child Abuse
• 16 Days of Activism: 5 Safety Apps To The Rescue
