Nuwe roetes vir ’n nuwe jaar
Dis heerlik warm en 'n bietjie vars lug is dalk net wat jy nodig het.
Die Krugersdorpse Stapklub gaan vir oulaas hierdie jaar ’n staproete doen.
Môre, 12 Desember word die Peledingwe-roete aangebied.
Hierdie roete is by die Krokodilrivier in die Broederstroom-omgewing. Dit is ’n boomryke roete, met oop kolle slegs op die hoë koppies en by die draai van die rivier vêr onder die koppe. Die staproete op die koppe loop saam met die kronkels van die rivier. Dit is ’n baie lekker roete, ongeveer 10m lank, maar kan plek-plek baie ruig wees, veral na die reën.
Die roete begin en eindig op die geskiedkundige Preller-plaas. Die ou familiebegraafplaas is een van die besienswaardighede op die terugtog. Die opstal is ’n nasionale monument waar die bekende Eugene Marais ook sy laaste jare deurgebring het. Dit is ook in die 1980’s en 1990’s deur die voormalige Atoomenergiekorporasie gebruik as restaurant waar hoogeplaaste besoekers dikwels onthaal is.
Die huis staan tans leeg, maar daar word gewoonlik ’n bring-en-braai na afloop van die stap gehou.
Vir eerste veldstappers is hierdie ’n uitstekende geleentheid om die veld te geniet. Dit is naby die huis en in ’n pragtige omgewing.
Vir die nuwe jaar word die Kloofendal-roete vir 9 Januarie beplan.
Hierdie is ’n gemaklike, lekker, pragtige en veilige roete – dit is hoe stappers hierdie roete beskryf. Van al die nabye roetes, is hierdie stap werklik ’n ontspanning vir siel en liggaam.
Beginners vind sommige plekke op die roete effens moeilik, maar as mens weet wat voorlê, word dit al hoe makliker.
Die roete is omtrent sewe kilometer lank, teen koppies op en af, maar nie regtig hoog nie. Al is dit in die middel van woongebiede geleë, is dit tog afgesonder, rustig en baie mooi. Die roete word goed versorg, maar klitsgras is dié tyd van die jaar op al die roetes. Dit is gratis om daar te gaan stap en stappers het nog nooit iemand teëgekom wat die roete nie geniet nie.
Stappers kom om 7.15vm bymekaar by Heritage Square by Cecil Knightstraat in Krugersdorp-Noord, vanwaar daar vertrek word.
Vir verdere besonderhede kan Lu by 083 235 1958 of Phillip by 083 788 4555 geskakel word.
