Sou jy graag wou weet hoe dit voel om in die ruimte te sweef? ’n Plaaslike skubaduiker verduidelik hoekom mense dié sport moet beoefen.
“Dis die naaste gevoel aan in die ruimte wees wat jy op aarde kry,” vertel Christa Seidler, ’n Krugersdorp-Wes-inwoner wat haar dae deurbring óf by die duikskool waar sy ’n instrukteur is óf by die swembad waar sy kinders leer hoe om te swem.
“Ek duik al sedert 2012 en ek sal nooit ophou nie.”
Die duikgogga het dié 46-jarige ma van vier, soos meeste avontuurlustiges wat dié sport beoefen, dadelik gebyt. Sy het reeds 230 duike agter die rug en maak reeds planne om weer see toe te gaan.
“Ek het al in Sodwanabaai, Simonstown, Umkomaas en selfs in die Rooi See geduik waar ek met verskeie seediere en haaie [ja haaie] interaksie gehad het,” het sy gesê.
Maar vir Christa was die beste oomblik onder die blou massa toe sy saam met ’n tierhaai geduik het.
“Hy was so twee meter van my af en was byna vier meter lank. Dit was asemrowend.”
As jy soos Christa sou wou duik, het jy nodig om ’n kursus deur ’n geregistreerde duikskool te voltooi.
’n Ontspanningsgerigte duik kan jou tot ’n maksimum van 40 meter onder die see neem, waar meer gespesialiseerde duikers selfs tot 300 meter kan duik.
Ahmed Gabr het in 2014 305 meter diep geduik in die Rooi See en daarmee ’n nuwe Guinness Wêreldrekord gestel.
Enige iemand kan duik, meen Christa, maar dit verg wel ’n bietjie fiksheid. Jy moet dit ook gereeld beoefen anders moet jy ’n vervarsingskursus bywoon voordat jy weer in die see of selfs in ’n dam mag duik.
“Dit is ook ’n groot stresverligter,” meen Christa.
“Jy ontmoet baie mense van regoor die wêreld wat jou passie deel.”
Maar dit kan soms ’n ontnugterende effek hê. Christa het vertel sy het al hoeke en lyne in visse se vinne gesien het terwyl hulle verby haar swem.
“Ons is die bewaarders van die see, dit is hartseer om te sien wat die mens aan natuur doen.”
Indien jy wonder of ’n haai al vir Christa ’n hap gegee het, kan jy maar ontspan.
“Ek het al saam met honderde haaie geswem en nie ek of enige duiker wat ek ken is al aangeval nie,” het sy gesê.
Vir nog foto’s van Christa se avonture onder die water, kliek hier.

