‘Ons sit met ‘n helse probleem’
Inwoners is bekommerd oor 'n veld wat nou in 'n stortingsterrein verander het.
Wat ‘n tydelike stoorplek moes wees, het nou al in ‘n rommel stortingsterrein verander.
Inwoners van ‘n deel van Naudélaan in Krugersdorp-Wes is bitter bekommerd oor die toekoms van die veld wat agter die huise grens. Daar het oor die laaste paar maande al hoe meer mense gekom om hulle vuilgoed of afval te stort.
Die betonstukke is deur kontrakteurs wat die waterpype in Krugersdrop-Wes vervang het, daar gegooi en nooit weer verwyder nie.
“En nou het daar al plakkers hier kom huismaak,” het Mariki Grobler, een van die bekommerde inwoners, vertel.
Mariki het haar huis in Naudélaan as ‘n belegging gekoop, maar nou is sy bekommerd dat sy die huis dalk teen ‘n verlies moet verkoop as daar nie iets aan die rommel gedoen gaan word nie.
“Daar is ook in die laatse twee maande al drie keer by my ingebreek. Dis nou teenoor geen inbrake in die laaste drie jaar wat ek hier bly,” sê sy.
Mariki sê sy het reeds die munisipaliteit ingelig oor die probleem, maar het nog geen terugvoering ontvang nie en vra nou hoekom sy moet aanhou grondbelasting betaal.
Die News het gaan ondersoek instel by die man wat besig was om bottels en glas te sorteer en gevra of hy wel daar bly.
“Nee, ek slaap nie hier nie. Ek doen net my besigheid hier,” het hy gesê.

Mariki stry dat sy drie mans en ‘n klein kind al van tevore daar sien slaap het.
“Ons sit met ‘n helse probleem,” sê sy.
Die News het die owerhede genader oor die situasie en wag nog vir terugvoering.
Verwante artikels:
• Nuwe infrastruktuur vir Krugersdorp-Wes
• Illegal dumping under council’s noses
• Contractor caught dumping illegally
