[FOTO’s] Sy gooi, en stoot, die verste
Hierdie plaaslike atleet is een om dop te hou.
Dané Roets is 14 jaar oud en reeds ’n nasionale gewigstootkampioen.
Dis nie al nie. Sy het ook by Hoërskool Noordheuwel se onlangse interhuis atletiekbyeenkoms rekords verbeter in spiesgooi en diskus.
Sy het die spies 31,15 meter en die diskus 33,62 meter ver gegooi en ’n drie-kilogram gewig byna 14 meter ver gegooi.
“Ek oefen vier keer ’n week vir omtrent twee ure,” het die Graad 8-leerling verduidelik.
Maar sy sing en speel ook graag kitaar.
Dané streef daarna om, soos haar afrigter Pierre Blignaut aanraai, ’n goeie balans te handhaaf. Jy moet meer as net jou atletiese talente bevorder, het sy gesê.

Haar ma, Susan Roets het vertel dat Dané al vandat sy begin altetiek beoefen het, groot potensiaal gewys het. Haar ouers ondersteun haar voluit en nes Pierre, sien hulle die wêreldkampioen in haar raak.
Dié junior victrix ludorum bly wel nederig. Sonder haar ouers wat haar gedurig rondry sou sy nie al so baie bereik het nie.
Dané werk hard om vanjaar aan die nasionale altetiekbyeenkoms deel te neem en dalk, soos sy twee jaar gelede gemaak het, as kampioen weg te stap.
“Ek gaan baie hard werk en my tegniek verbeter. As ek op provinsiale vlak kan uitkom, sal ek my beste gee,” het sy gesê.
Een van die beste oomblikke as ’n atleet vir Dané is wanneer sy ’n item wen.
“As ek hard daarvoor gewerk het, weet ek ek het dit verdien,” meen sy.
Maar dit gaan nie net vir haar oor wen nie. Dané hou ook daarvan om mede-atlete te sien verbeter en is trots wanneer hulle bevorder word. Daar is ’n groot ondersteuningsbasis onder atlete.
As jy nes Dané ook streef om ’n atleet van formaat te word, raai sy jou aan om hard te oefen, jou alles te gee en dankbaar te wees vir mense wat jou help om jou droom te bereik.
“Jy moet ook leer hoe om kritiek goed te hanteer,” het Susan bygevoeg.
Vir meer foto’s van Dané op die atletiekbaan, klier hier.
Related articles:
• Alma Mater athletes break six records
• Ons diskus kampioen maak opslae
