Ontmoet die News se gereelde brieweskrywer
Een van die News se gereelde en omstrede brieweskrywers vertel van sy lewe en waarom hy graag sy opinie deel.
Hy is Krugersdorp News se mees lojale brieweskrywer en debatvoerder. Ons leer die man agter die gevleulde woorde ken.
Johannes Esterhuizen skryf gereeld van oorlogsake en wat die Bybel te sê het oor hoe belangrik die innerlike is na renosterhoring handel en rugbypolitiek. Hy is beslis nie bang om sy mening te lig nie.
Maar hierdie 63-jarige man, wat nooit getrou het of kinders gehad het nie, meen die Bybel is sy grootste handleiding.
“Ek het nooit teveel oor skool omgegee nie. Die Bybel was my skool,” sê hy.
Maar Johannes luister graag na wat ander kerke ook te sê het en gesels graag oor die Woord. Niks keer hom om soms ander se foute uit te wys nie. Johannes, of Boetie soos sy familie hom ken, het in die tronk ‘n Bybel weggegooi. Toe hy in die hof gevra is hoekom hy staatseiendom beskadig, het hy hulle die verskille in sy Bybel en die tronk se Bybel uitgewys en gestry dat die tronk sin ‘n verkeerde beeld stel.
“Ja, ek was in die tronk deur dinge wat ek as dranksugtige gedoen het. Maar ‘n paar jaar gelede het ek vir die laaste keer aan ‘n bottel drank gevat toe ‘n vrou my ‘n huis gegee het toe ek in nood was. Sy het my mooi gevra,” onthou Johannes.
Johannes is in Krugesdorp gebore as een van 13 kinders. Hy is op vierjarige ouderdom aan die welsyn gegee. Hy glo ook nie meer daarin om kar te bestuur nie al het hy self al bestuur.
“Ek loop oral waar ek nodig het om te kom. Dit is te gevaarlik om te bestuur in vandag se tyd,” sê hy.
Hy stem saam dat jy die wêreld om jou beter ervaar as jy loop as wat jy sou as jy in ‘n kar moes verby jaag.
Daar is vir Johannes net een waarheid.
“Reg, geregtigheid en regverdigheid. Dis it die waarheid,” is die woorde waarby Johannes lewe. Dit staan ook op die enigste portret wat hy in sy huis ophang.
“Ek het die raam self gemaak en die glas self gesny,” sê hy.
Johannes bring sy dae op Tarlton deur en sien graag sy opinie op die brieweblad in die Krugersdorp News verskyn.
Verwante artikels:
• Bedelaar eintlik aspirant komediant
• Kankerlyer, maar steeds steunpilaar in gemeenskap
• Pastoor met ‘n hart van goud
