Plot inwoners net buite die dorp is bekommerd dat ‘n deel van hulle erf bietjie vir bietjie wegspoel wanneer swaar reën op die dorp neersak.
Frikkie Gebhardt en sy gesin woon al sedert 2000 op die plot en meen dat hulle erf al sowat agt meter verklein het weens die vreemde weer die afgelope paar jaar.
Langs hulle plot vloei die Blaauwbankspruit stroom wat riool en storm water na die dam by Munsieville tot die dam in Hartbeespoort neem.

In ‘n probeerslag om die oorstroming te verminder het Gebhardt klippe aan die rand van die spruit geplaas, maar sonder sukses.
Verlede Vrydagmiddag, 5 Februarie, se storm in die area het veroorsaak dat die oorstromings tot ‘n verdere twee meter van sy erf geeis het. Die haelstorm vroeër in Januarie het sy erf ook met sowat twee meter verklein.
“Sodra die reën kom spoel alles weg,” sê Gebhardt.

Hulle plot is ook nie meer veilig nie omdat die elektriese heining verwyder moes word omdat die grond daaronder weggespoel het.
“Ons honde moet in ‘n kamp leef snags omdat ons nie wil hê dat hulle moet wegraak nie omdat die plot nou so te sê oopstaan.”
Hy het onlangs raadslede ingeroep vir bystand aangesien die oorstroming van die spruit indirek die munisipalteit se bekommernis behoort te wees.
“Ek is al ‘n geruime tyd reeds besig om te onderhandel met Mogale City Munisipaliteit sowel as die Wes-Rand Distrik Munisipaliteit dat die hele stroom se vloei ondersoek moet word sodat dringende aandag daaraan gegee word. Die Blaauwbankspruit is saam met die Tweelopiesspruit uiters sensitief vir ekologiese verval en is al jare in gedrang weens besoedeling en verwaarlosing. Die twee spruite is al vir ‘n geruime tyd sonder enige lewende organismes en vislewe weens die besoedeling – waaraan die omliggende myne skuld dra,” het hy gesê.
Die Vryheids Front Plus hou die kwessies dop en sal verseker, soos voorheen, dat daar dringend aandag gegee word deur die owerhede.
“Ons waterbronne in en om Mogale City is van kardinale belang en dit word vir jare reeds afgeskeep,” het leier van die VF Plus vir Mogale City, Amanda de Lange gesê.
Soortgelyke artikels:
• Warning: Road closed due to heavy rain
•Warning: Road closed due to heavy rain
•Prepare for the rain and hailstorm
