Local newsLocal sportNewsSport

Staptog deur Botaniese Tuin

Dis somer en lekker warm en die Krugersdorpse Stapklub bied twee verfrissende staproetes aan.

Die Krugersdorpse Stapklub se program vir Februarie en Maart bied twee fantastiese staproetes aan.

Op 13 Februarie word die roete by die Botaniese Tuin aangepak.

Dit is seker een van die mooiste roetes, want daar is nie net staproetes nie, maar moontlik die enigste waterval in Suid-Afrika wat besoekers te voet kan bereik.

Die tuine word pragtig in stand gehou en mens kan kruis en dwars op die wandelpaadjies daardeur stap. Die arende se nes kan ook gesien word terwyl hulle sirkel om te land. Stappers stap ook af na die dam toe, waar daar ’n uitkykpunt is om die voëls dop te hou wat kom water drink, of te kyk hoe die eende sirkels op die water maak. Hier is genoeg wandelpaadjies wat stappers vir ’n hele ruk kan besig hou. Mens kan ook jou dors gaan les by die restaurant.

Stappers kan met die baie steil trappies tot bo by die waterval uitklim, van waar die rivier sigbaar is. Vandaar word die lekker steil kop uitgeklim tot bo-op die berg waar ’n pad die stappers om die koppe neem en terug bring na die Tuin toe. Hierdie is ’n matige stap, met net af en toe ’n uitdaging teen die koppies uit.

Vir 12 Maart kan stappers hulself gereed maak om by Groenkloof te gaan stap.

Dit is een van hul gunsteling staproetes want langs Pretoria Tuine, in die nuwe wildreservaat geleë is. Dit is 10km lank. Hierdie is werklik ’n pragtige roete, met ’n effense moeilik-faktor, maar al die wilde diere (nie die groot vyf nie) is ’n bonus. Daar is verskillende rooibokke, wildebeeste, kameelperde en kwaggas te sien. Veral kinders geniet hierdie roete baie.

Die omgewing is baie mooi en is bedoel vir diegene wat ’n bietjie gemakliker wil stap. Die roete is baie goed versorg. Bergfietsryers gebruik ook die omgewing, maar ry nie op die stappers se roete nie.

Stappers kan nog ’n trein daar onder sien verby ry en daar is ook verkeer ver onder, maar jy sien dit nie heeltyd nie, net so aan die begin van die roete. Hulle het ’n mooi piekniekterrein waar geparkeer word en daar word gewoonlik gebraai na die stap.

As jy by die klub wil aansluit, skakel vir Lu Ludick by 083 235 1958, Renaldo Prinsloo by 082 879 8795 of Phillip Olivier by 083 788 4555.

Lees meer:

• Sluit aan by die stapklub die maand

• Heerlike lentestap – kom verfris jou siel

• Herfs-staproetes verfris die siel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button