Bejaardes het beslis talent
Dit was 'n oggend propvol talent en pret by die Luipaardsvlei Tehuis.
Die inwoners van die Luipaardsvlei Tehuis vir Bejaardes het meer as net konsert gehou tydens hul jaarlikse talentkompetisie.
‘n Propvol saal het gretig gewag dat die deelnemers op die verhoog verskyn om hul spesiale talente ten toon te stel.
Helena Knoetze het eerste opgetree en het eers Lente in Switserland en die Duitswes Wals op die trekklavier gespeel, en daarna voor die klavier ingeskuif om verskeie ou, bekende melodieë te speel terwyl die gehoor heerlik saamgesing het.

Luipaardsvlei se eie Grafsteensangers was volgende in die kollig met hulle unieke vertolking van Tannie met die Rooi Rokkie.
Die gehoor het saam geklap en gelag toe een van die lede op die verhoog in haar gepaste rooi rok begin gedans het.
Sarie Smit en Manie Mulder se eerste twee pogings om met hul dansroetine te begin was onsuksesvol omdat die CD bly lol het, maar Helena het gelukkig tot hul redding gekom deur vir hulle op die trekklavier te speel.
Allet Smith het eers ‘n stuk op die klawerbord gespeel voordat sy die Luipaardsvlei-koor begelei het met die Oorwinningslied.

Aan die einde van die prettige konsert is die Luipaardsvlei-koor as die algehele wenners aangewys vir hulle pragtige weergawe van die lied.
Die talentvolle Helena het die tweede plek behaal met die Grafsteensangers in die derde plek.
Die oggend was ‘n groot sukses aangesien die inwoners nie net vermaak is nie maar ook mekaar se talente kon waardeer.

Nog leesstof:
• 470 Plaatkoekies vir bejaardes
• Sweet tap by bejaardes se interhuis
