Gestremdes, bejaardes kan nou ook maklik stem
Die munisipale verkiesing is om die draai en raadslede wil die proses vir bejaardes en gestremdes maklik maak.
Spesiale registrasies maak die registreer- en verkiesingsproses vir ons bejaardes en gestremdes baie makliker, vertel aspirant Demokratiese Alliansie-kandidaat Jean Kotze.
Jean het op 12 Februarie by die Featherbrooke Aftree-oord vorms vir spesiale registrasie gaan uitdeel.
“Die vorms maak dit vir die bejaardes moontlik om in die gerief van hul huise tydens vanjaar se plaaslike verkiesing te stem,” het Jean verduidelik.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) saam met die Nasionale Raad vir Blindes het ‘n universele stembrieftemplaat (UST) ontwerp om vir mense met gestremdhede en spesiale behoeftes ook ‘n geleentheid te bied om onafhanklik ‘n geheime stem uit te bring.
Volgens die kommissie kan mense wat blind en swaksiende is, lae visie het, disleksies is, bejaard is, ongeletterd is en wat aan motoriese en senutoestande ly en dit moeilik vind om gemaklik te skryf die UST gebruik.
Jean het gesê dit is baie belangrik dat elke persoon stem. “By hierdie aftree-oord is daar 850 posbusse en baie stemme wat gehoor kan word.”
Registrasie om te stem gaan op 5 en 6 Maart in die verskillende wyke regoor Krugersdorp plaasvind. As jy meer wil weet oor spesiale registrasies kan jy die OVK skakel by 0800 11 8000.
Verwante artikels:
• Treat municipal elections equally serious
• Standing in the voting line this year?
