‘n Paartjie van Krugersdorp-Wes sê aangesien hulle vanjaar heel toevallig ‘n spesiale jaar vier, hulle dalk die Lotto ook moet speel.
Freddie en Hannetjie Nortman het op 25 Januarie hulle 58ste huweliksherdenking gevier. Hulle is in 1958 getroud én bly al vir 58 jaar in hul huis in Krugersdorp-Wes.
“Dis net jammer ek kan nie ook 58 girlfriends hê nie,” het Freddie geterg. Hy word vanjaar 80.
Die paartjie glo hulle is geseën om nog na soveel jare saam oud te word. Hulle is reeds geseën met vier kinders, sewe kleinkinders en verwelkom dié jaar ‘n agterkleinkind.

“Ons het saam ‘n baie lang pad gestap en in moeilike tye deurgedruk. Ek glo vandag se jong paartjies moet ook probeer deurdruk en besef dat dinge nie altyd maklik gaan wees nie,” het Hannetjie vertel.
Hannetjie was maar 17 toe sy met Freddie getroud is. Hy het destyds nog by die myn gewerk. Hulle is albei in Krugersdorp gebore en meeste van hulle familielede woon nog hier.
“Alhoewel dit nie met jare terug vergelyk kan word nie, is Krugersdorp ‘n lekker plek om te bly,” het Hannetjie gesê.
Die paartjie meen die nommer 58 gaan moontlik vir hulle geluk bring, al glo hulle die getal is net toevallig.
Verwante artikels:
• Getrou aan mekaar al vir 70 jaar
• Ouma- en oupagrootjie al 59 jaar saam
• Messages from beyond at the spiritualist church
