Geliefde polisieman sterf na kankerstryd
'n Bekende en geliefde voormalige speurder in die polisie is ter ruste gelê.
Die gemeenskap van Krugersdorp het onlangs afskeid van ‘n geliefde inwoner en polisieman geneem wat sy geveg teen kanker verloor het.
Kolonel Pieter Kruger is op 17 Februarie aan prostaatkanker en ander komplikasies weens sy behandeling oorlede.
Die 72-jarige voormalige polisieman was betrokke by verskeie hoë profiel sake en was wel-bekend onder die gemeenskap as die Hoof van Veiligheid vir sowat 13 jaar.
Hy het sedert sy aanstelling in 1961 gou deur die range gevorder en in 1974 is selfs ‘n kommissierang aan hom toegeken.
Een van sy bekendste sake waarby hy betrokke was is die Delmas-hoogverraad verhoor waar hy die ondersoekspan, wat vyf jaar aan die saak gewerk het, gelei het.
Kolonel Kruger het verskeie aanprysings en medaljes vir sy goeie werk ontvang tydens sy diens in die polisie.
Na sy aftrede het hy by Unisa studeer en die sakewêreld betree.
Sy begrafnis het vanuit die Hervormde Gemeente in Krugersdorp plaasgevind en is deur verskeie bekendes waarmee hy en sy vrou, Rien, deur die jare gewerk en vriende was, bygewoon.
Huldeblyke is gelewer deur Lieutenant-Kolonel Gedeon Serfontein van die Bond van Oud Polisiebeamptes, waarby Kruger ook ‘n lid was, en sy kleindogter Tarina Meiring.
“Baie dankie vir almal se ondersteuning veral ds Attie Hattingh, die paramediese personeel en Florida ambulansdienste, die Kanker Onkoloog, Netcare Krugersdorp Hospitaal en al sy oud-kollegas en vriende,” het Rien gesê.
Soortgelyk artikels:
•Goodbye to a golden CPF legend
•Vaarwel, rus in vrede oom John
