Op die herstelpad, nou ploeg ons terug
'n Gewese verlaafde en Krugersdorp-inwoner wil nou uitreik na dié wat nog op straat is.
‘n Sekswerker, dwelmverslaafde, dwelmhandelaar, bedelaar – noem dit wat jy wil, maar een gewese verslaafde het besluit om terug te kyk na die donker dae sodat sy die beeld van Krugersdorp kan help blinkvryf.
“My naam is Elzana O’Kelly, ek is 28 jaar oud en is ‘n herstellende dwelmverslaafde. Ek het ‘n paar maande terug in Krugersdorp gewoon en was verslaaf aan dwelms. Verlede jaar het ek die geleentheid gekry om na ‘n rehabilitasiekliniek te gaan om my herstelproses te begin,” het sy vertel.
Elzana het aan die News vertel dat die proses nie ‘n maklike een is nie, maar dat dit die moeite werd is.
“Dit is ‘n geleentheid op ‘n tweede kans,” het sy gesê.
Volgens haar het sy baie ondersteuning van haar ma gehad “maar ek besef ook dat nie almal wat hierdeur gaan daardie tipe ondersteuning en liefde kry nie en dikwels die moeilike pad alleen moet aanpak”.
Saam met Hannelie Niewenhuysen, stigter van die Facebook-ondersteuningsgroep Dagboek van ‘n Ouer en ook ‘n ma van ‘n gewese verslaafde kind, gaan Elzana die Kosmos Hope Project aanpak.
“Saam het ons besluit dat ons nie langer net kan stilsit en toekyk hoe ‘n hele generasie in Krugersdorp vernietig word deur dwelmverslawing nie; ons moet ingryp en help,” het Elzana oor die projek gesê.
Op 27 Augustus gaan die projek hul Recovery Walk deur Sivewrightstraat en die omliggende dele hou waar die dwelmaktiwiteite hoogty vier, gevolg deur ‘n hele dag se pret en vermaak.

“Die dwelmhandelaars moet sien en kennis neem dat Krugersdorpers hul mooi dorp wil terug hê. Hopelik sal ons ‘n paar verslaafdes langs die pad kan inspireer om die moeilike, harde pad na herstel aan te pak en vir hulle te wys dat dit die moeite werd is,” het sy verduidelik.
Alle fondse wat dié dag ingesamel word, sal gebruik word om die verslaafdes in Krugersdorp te help wat dringend hulp soek, maar dit nie kan bekostig nie. Maar nog fondse en hulp is nodig om van die projek ‘n sukses te maak.
“As ons net een kosmos-kind kan help, dan het ons as ‘n gemeenskap ‘n verskil gemaak,” glo sy.
‘n Kosmos-kind is die naam wat Hannelie en die lede van Dagboek van ‘n Ouer, die kinders van verslawing gee – oud of jonk.
“Verslawing is ‘n siekte waarvoor daar nie ‘n kuur is nie, maar met die regte ondersteuning en berading kan jy ‘n tweede kans kry,” het sy gesê.
Vandag is Elzana steeds op die herstelpad en woon gereeld beradingsessies by om op daardie pad te bly. Sy is ‘n trotse ma en maak elke dag ‘n sukses van haar werk in die korporatiewe wêreld.
As jy sou wou betrokke raak of as ‘n borg wil optree, kan jy vir Hannelie Niewenhuysen kontak by 072 569 0393 of epos kosmoshopeproject@gmail.com.
“Gaan like ook gerus ons Facebook-blaaie: Kosmos Hope Project en Dagboek van ‘n ouer vir meer inligting,” het Elzana aanbbeveel.
Lees ook:
• [VIDEO] ‘n Oplossing vir die bedelprobleem?
• New drug town solution, could it work?
