Kenmare-atlete vir Gauteng-span gekies
Vyf atlete van Laerskool Kenmare is op pad PE toe om aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deel te neem.
Wouter Immelman, Laerskool Kenmare se skoolhoof het goeie rede om in sy noppies te wees. ‘n Handjievol leerlinge van sy skool is gekies vir die Gauteng-atletiekspan.
Die skool is trots op hul vyf atlete wat aan die einde van verlede maand na afloop van die Gauteng-kampioenskappe vir dié span gekies is.
Atlete wat ‘n eerste of tweede plek tydens die kampioenskappe behaal het, het daarvoor gekwalifiseer.
Die atletiekuitblinkers sal deelneem aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe in Port Elizabeth op 11 en 12 Maart.
Paul Steenkamp en Anezka Grovè is gekies vir hulle uitstekende prestasie in spiesgooi terwyl Francois Venter en Kelvin van Wyk in verspring uitgeblink het.
Die sterkste atleet in die skool is Cian de Villiers wat puik vertoon het in gewigstoot en diskus.
“Ons wens hierdie Kennie-kampioene alle sterkte toe en weet vir seker dat hulle Gauteng en Laerskool Kenmare se naam hoog sal hou,” het Wouter trots gesê.
Verwante artikels:
• Kenmare-atlete op pad kampioenskappe toe
• Prettige atletiekdag by Kenmare gehou
• [FOTO’s] Sy gooi, en stoot, die verste
