Local newsNews

‘n Oggend vir vroue deur vroue

Ten bate van 'n noodlottioge skool, het Lizz Meiring haar kunstige talente kom deel met Krugersdorp se vroue.

Pienk vere en vrolike poësie was verlede Saterdagoggend (27 Februarie) aan die orde van die dag in Muldersdrift.

Lizz Meiring en ander gaskunstenaars het ‘n vingerhappie-oggend gefokus op vroue ten bate van Sechaba Skool in Muldersdrift by Usambara Lodge aangebied.

Meer as 100 vroue, saam met ‘n brawe man of twee het by tafels aangesit en luister na Lizz se gedigte en die kragtige sang deur Michelle Botha, wat ook gereeld op die verhoog verskyn.

“Ek hou daarvan om in rym te skryf, dit dissiplineer ‘n skrywer,” het Lizz gesê.

Met woorde soos “vertikaal verleng” en “Asvrouedeeltjie” wat “lang” en “Aspoestertjie” vervang het, het Lizz die bekende feeverhaal herskryf sodat dit “polities en sosiaal inkorrek skoongeskrop is”.

Lizz het deur haar kuns ‘n beeld van vandag se wêreld geskep maar steeds op die uniekheid van vroue gefokus.

Lucie Kallewaard (links) en Marry Beijl het gehelp om Sechaba Skool te stig.
Lucie Kallewaard (links) en Marry Beijl het gehelp om Sechaba Skool te stig.

“Die vermoë wat vroue het om informasie uit iemand te kry is steeds ongelooflik. Ons is inderdaad nuuskierig gebore,” het sy vertel.

Aktrise Shaleen Surtie-Richards het saam met vroue van regoor die Wes-Rand vir Lizz kom ondersteun.

Nadat rymgrappies vertel is, het Krugersdorp se eie dr Martina van der Mescht – ‘n internasionaal erkende estetiese dokter – gepraat oor die waarheid van velsorg en wat werk om ons beter te laat lyk en voel. Sy is ook die landswye mentor vir Allergan, ’n internasionale estiese maatskappy, en bedryf die Travel Clinic in Krugersdorp.

Lizz het vir Martina spesiaal bedank en gesê danksy haar lyk Suid-Afrika se aktrises nog soos mense.

Die eintlike gaste het egter aan een van die versierde tafels gesit. Lucie Kallewaard en Marry Beijl het vanuit Nederland die Sechaba Skool saam met Karen Nortje gestig. Die skool huisves voorskoolse kinders en het ’n naskoolsentrum in die hartjie van ’n informele nedersetting in Muldersdrift. Hulle bied ’n veilige hawe vir sowat 120 kinders.

“Dié skool is brandarm. Die leerlinge het skaars skryfbehoeftes en ander broodnodige fasiliteite. Maar die skool se gees is onblusbaar – toegewyde onderwysers en betrokke ouers sorg dat die leergierige, dankbare kinders ten spyte van al die uitdagings ’n opvoeding ontvang,” het Louis Fourie gesê. Hy is ’n Krugersdorp-inwoner wat die skool se potensiaal raakgesien het en as vrywilliger betrokke geraak het.

Louis het ook die oggend saam met Lizz gereël.

Tussen die Stoompomp-reeks van Hollywood Costumes se Heidi du Toit en die suurlemoentert het die vroue weer spesiaal gevoel. Soos Lizz gesê het, “ons vier sommer weer ons eie vrouedag op 27 Februarie.”

Lees ook:

• Lizz Meiring vertoning by Garden World

• Lizz vir ‘n bietjie lente?

• ‘n Mark vir vroue – deur vroue

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button