Land(voor)loper op pad na Kameroen
Chery-Lee Schoeman gaan Suid-Afrika by die landloop-wêreldkampioenskappe verteenwoordig volgende naweek.
‘n 17-jarige landloopster gaan Suid-Afrika en Krugersdorp op 12 Maart by die Afrika Landloopkampioenskappe verteenwoordig.
Chery-Lee Schoeman, wat deur Franco Oosthuizen afgerig word, vertrek Woensdag 9 Maart na Kameroen in Wes-Afrika vir die grootse wedloop van haar atletiekloopbaan sover.
“Toe Chery-Lee die kortlys van die Suid-Afrikaanse landloopkampioenskappe gehaal het nadat sy onderskeidelik aan die 5 000 meter en ‘n 10 kilometer wedloop deelgeneem het, is sy as een van ses atlete gekies wat gekwalifiseer het om deel te neem,” het Franco verduidelik.

Die jong atleet mik daarna om eendag ‘n olimpiese atleet te wees, maar neem dit nou stap vir stap. Sy is dankbaar vir die geleentheid om Kameroen toe te gaan en beskou dit alreeds as ‘n prestasie.
“Maar ek gaan probeer om te wen,” het sy gesê.
Chery-Lee gaan in die junior kategorie saam met van die wêreld se beste atlete deelneem en as sy minstens ‘n top 15-plek haal, sal Franco baie trots wees.
Na die wêreldkampioenskappe gaan Chery-Lee voorberei vir die Spar Ladies-reeks wat op 17 April afskop. Verlede jaar het sy 11de geëindig en hoop om vanjaar onder die top 10 te val.
“Eendag gaan ek ook die Olimpiese Marathon hardloop,” het sy gesê.
Verwante artikels:
• Monnas-atlete skitter by wêreldkampioenskappe
• Karavaankampatleet oefen weer
• Atletiekseisoen hardloop vol stoom
