‘Nou gaan ons braai – al sous dit’
Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie braai die lekkerste vleisie in die land?
Al reën, oorstroom en vloed dit, selfs al sneeu dit … braai sal hulle braai.
Plaaslike braai-mal-inwoner Dan van Rensburg het onlangs ‘n Wednesday Braai Night Facebook-blad gestig waar hulle raad, wenke en foto’s uitruil en natuurlik almal aanraai om saam te braai.
In sowat vier ure nadat die groep gestig is, is hulle 530 ‘vriende’ ryker.
Die Van Rensburg paartjie braai so getrou op Woensdae dat hulle selfs toe hul met vakansie in Griekeland en China was, gebraai het.
Die blad volg nadat Dan en sy vrou vir die afgelope drie jaar nog nie een Woensdagaand braai-sessie misgeloop het nie.
“Van Maandae tot Vrydae werk mens jouself dood. Dit is toe wat ons besluit het om in die middel van die week ‘n blaaskans te vat en te braai. Dit is ook ‘n geleentheid vir ons om kwaliteit tyd saam te spandeer sonder selfone,” sê Dan.

En sou hulle vergeet om ‘n kiekie van hulle braai-brousel op Facebook te plaas, kry hulle dan navrae van vriende oor hulle nuutste resep waarmee hulle geëksperimenteer het.
Die groep is slegs vir ernstige braaiers en het selfs ‘n stel reëls wat gehoorsaam moet word.
Hulle het ook pas twee borge ryker geword, wat bot agter hulle braai-geloof staan.
Plaaslike besighede Big 5 en Braai Pad het hande gevat met die groep en bied klante spesiale pryse op verskeie produkte op ‘n Woensdag aan.

Vandat die blad gestig is, het hulle volgers van so ver as Qatar, Amerika, Zambia en Holland bygekry. In Suid-Afrika het hulle ‘vriende’ van Durban, Kaapstad, Mpumalanga en die Oos-Rand wat elke Woensdag saam braai.
Dan bieg dat alhoewel hulle braai kombinasies smullekker op Facebook lyk, het daar al ‘n resep of twee geflop.
“Ons het eenmaal kalamarie gebraai wat op die ou einde nie net soos rekkies gelyk het nie, maar ook so geproe het.”
‘n Wenk wat die News by hierdie braai-sessie wel opgetel het is dat geelsout (Aromat) by absoluut alles werk.
Soortgelyke artikels:
•Consumers expected to braai more
•Sizzling braai tips for summer
•One braai, one nation at the heart of Heritage Day
