Koekversiering is hul passie
Die Wes-Rand tak van die SA Koekversiergilde het onlangs geleer hoe om met versiersjokolade te werk.
Krugersdorp se eie baasbaksters het by die Luipaardsvlei Tehuis vir Bejaardes ‘n demonstrasie gegee oor hoe om sjokolade as koekversiering te gebruik.
“Die klub ontmoet gereeld vir demonstrasies soos Ray Esmay s’n vandag,” het die Suid-Afrikaanse Koekversiergilde Golden Cloud Club se voorsitter, Elda Lombaard, aan die News vertel.
Ray is die eienaar van Crystal Candy, ‘n plaaslike besigheid wat grootliks versiersjokolade verkoop.
Die groep van 20 lede wat ‘n liefde vir bak het, het op 8 Maart bymekaar gekom om meer oor die fyner kunsies te leer.
Elda het vertel hulle geniet koekversiering so omdat dit altyd ‘n uitdaging aan jou vermoëns bied en daar gereeld iets nuut is om te leer. Elda beoefen die kuns nou eers vier jaar, maar het gesê daar is lede wat hulle al 30 jaar en langer daarmee besig hou.
“Koekversiering oor die algemeen is baie gewild, veral ná programme soos Cake Boss. Baie mense doen dit deesdae as ‘n stokperdjie en baie probeer om dit in ‘n besigheid te omskep. Die gilde bied ‘n goeie geleentheid vir iemand wat ekstra geld wil verdien, en die vaardighede wil leer,” het sy gesê.

Vir R290 per persoon per jaar is enige persoon by die klub welkom. Die gelde sluit drie SA Koekversiergilde-tydskrifte en gratis demonstrasies deur die loop van die jaar in.
“Ons is ook daar om mekaar te help en by mekaar te leer. Daar is van die dames in die tak wat ook klasse aanbied. Dit is vir kinders wat leer en beginners, tot versierders op meestersvlak,” het Elda verduidelik.
Die klub verkoop eerskomende Sondag en Maandag (20 en 21 Maart) hulle versierde paaseiers by Cradlestone Mall vanaf 10vm. As jy graag meer wil weet oor die klub of belangstel om deel te word, kontak vir Elda by 083 454 7859 of epos haar by eldalombaard@gmail.com.
Lees ook:
• [PHOTOS] 2 500 coulourful cupcakes for kids with cance
• Happy World Chocolate Cake Day
