Monnas-atlete skitter by Curro Podium Regionals
’n Naweek van persoonlike prestasies, podiumplekke en Monnas-trots.
Hoërskool Monument (Monnas) het vier plekke opgeskuif sedert verlede jaar en tydens die Curro Podium Regionals, wat van 18 tot 19 September by Pilditch in Pretoria plaasgevind het, ’n algehele agtste plek uit 59 skole behaal.
Annabelle Blignaut was een van die groot uitblinkers met goue medaljes in gewigstoot en diskus. Sy is ook vir die tweede agtereenvolgende jaar as Junior Veldmeisie van die Dag aangewys.
Milan Blignaut het goud in hoogspring verower, terwyl Monnas-atlete ook verskeie silwer- en bronsmedaljes ingepalm het.

Drie atlete het boonop meer as 900 punte op die APE-tabel behaal: Kairen van der Bank (917), Ila Oosthuysen (908) en Heinrich Botha (902).
Volgens Suzaan Alberts, Monnas se hoof van sosiale media, was die byeenkoms ’n besonderse begin ná ’n suksesvolle wintersportkwartaal. Dit getuig ook van die harde werk wat die atlete gedurende die afseisoen ingesit het.
