Die AfriForum Krugersdorp-tak is tans in gesprek met die nasionale AfriForum-kantoor oor moontlike stappe omdat die uitslae van watertoetse wat in al die dorp se spruite en strome gedoen is, kommerwekkend is.
AfriForum is ‘n nie-regeringsorganisasie, geregistreer as ‘n maatskappy sonder winsoogmerk, met die doel om “minderhede se regte te beskerm”.
Alhoewel Krugersdorp se drinkwater volgens AfriForum-bestuurslid Ronaldo Prinsloo aan wetlike vereistes voldoen, is hy bekommerd oor die natuurlike strome.
“Al die watermonsters is getoets vir E.coli, fekale koliforme, nitrate and fosfate,” het Ronaldo verduidelik.
Volgens hom het die toetse getoon dat die water in die strome wat deur Krugersdorp vloei, nie van ‘n goeie gehalte is nie.
Ronaldo is veral bekommerd oor die vlakke van fekale koliforme- en E.coli- (Escherichia coli-) bakterieë in die water, wat met ontlasting verband hou.
Die uitslae lyk so:
• Die stroom wat deur die Kloof langs Kenmare vloei het positief vir E.coli en fekale koliforme getoets.
• Die stroom wat uit Kroningsparkdam verby die Sterkfontein-grotte vloei het ook positief vir E.coli en fekale koliforme getoets.
“Ek moet wel noem dat al die drinkwater wat regoor Krugersdorp getoets is, aan die vereistes voldoen. Dit is slegs die strome en spruite wat nie te goed lyk nie,” het Ronaldo bygevoeg.
Hy het almal wat aan die projek deelgeneem het en belangstelling getoon het, op Facebook bedank.
Die News het Nkosana Zali, Mogale City Plaaslike Munisipaliteit-woordvoerder, gevra vir kommentaar, maar dit is nog nie ontvang nie.
Nog AfriForum nuus:
AfriForum neem Blou- en Groendruppeltoetse in Magaliesburg
AfriForum tree op teen Mogale na rioolbesoedeling
AfriForum stig ‘n tak in Krugersdorp
