Local newsLocal sportNewsSport

Winterroetes om siel te verfris

Twee opwindende staproetes word vir Junie en Julie beplan.

Met die koue hier om vir ‘n paar maande te bly word stappers aangeraai om die geleentheid te gebruik om saam met die Krugersdorpse Stapklub jou siel ‘n bietjie te verfris.

Twee opwindende staproetes word vir Junie en Julie beplan.

Op 11 Junie pak die klub Kranskloof aan.

Die roete is naby Buffelspoort-vakansieoord, en klimaatsgewys ook omtrent dieselfde. Hierdie is sekerlik een van dié mooiste roetes wat die klub ken. Aanvanklik lyk dit maar vaal en skynbaar baie vervelig, veral as mens op die eerste gedeelte na die kruin van die koppie toe stap. Maar dan draai die stappers links en is skielik in die kloof. Wat ‘n aangename verrassing. Skielik is jy in die allermooiste omgewing denkbaar – kranse, water, rotse, noem maar op; alles is daar.

Hier geniet stappers elke sekonde en elke tree wat hulle gee. Aan weerskante word jy beskerm deur loodregte kranse wat bo jou uittroon, en daar is selfs ‘n grot of twee. Al is dit rotsagtig, is daar baie plek om gemaklik te kan stap. Somtyds moet jy ook maar beur en klouter teen die hoë rotse uit, maar dit bied ‘n uitdaging aan elke volbloedstapper wat die natuur in al sy vorms liefhet, maar as jy daar uitstap op pad terug, sê vir jouself “ek kom terug”.

Op 9 Julie word die roete Bergheim aangepak.

Hierdie roete is naby die Rustenburg-omgewing, met ‘n reisafstand van 220km heen en weer, en is aan die voet van die Magaliesberg-reeks. Dit is skilderagtig mooi en die motors word op die gronde van die Bergheim-vakansieoord geparkeer. ‘n Gedeelte van die roete is op ‘n redelike gelyk stuk veld van omtrent ‘n kilometer lank en dan begin die stap berg op. Daar is twee maniere om op of af te gaan. Met die linkerkantste roete word daar deur ‘n droë lopie gestap en dan word daar skep teen ‘n rotsagtige formasie uitgeklim.

Dit is nie ‘n kransagtige formasie nie, maar dit is beter om daarteen op te stap as af. Daar is baie mooi bome en plante op die roete en as mens bo-op die kruin kom, kyk jy af op die dam daar onder. Hier vertoef die stappers gewoonlik ‘n rukkie, en dan stap hulle regs af deur ‘n klofie en anderkant teen die berg af. Hierdie roete het ‘n gradering van vyf, het sy moeilikheidsfaktor en is 10km lank.

Kontak vir Lu Ludick by 083 235 1958 of Renaldo Prinsloo by 082 879 8795 of Phillip Olivier by 083 788 4555 vir meer besonderhede.

Lees verder:

Poskoets en Hennops vir stappers

Stap, stap oor die berge

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button