MunicipalNewsUpdate

Beloftes oor swembad bly leeg

Publieke swembad steeds gesluit byna 'n jaar na die beloofde heropening.

Die publieke swembad is steeds nie gereed vir die swemseisoen nie ten spyte van beloftes dat dit 10 maande gelede al vir die publiek sou oop wees. Die beloofde herstelwerk is ook nog nie afgehandel nie.

Gedurende verlede jaar se Stadsrede het burgemeester Koketso Calvin Seerane belowe dat die publieke swembad in Krugersdorp-Wes teen September 2015 oop sou wees.

“Dis nou amper ‘n jaar later en steeds is die swembad nie gereed vir die somerseisoen wat oor twee maande begin nie,” het die kandidaatraadslid vir Wyk 38, Trudie Naudé gesê.

Met ‘n onlangse besoek aan die swembad kon Trudie sien dat daar darem iets aan die gebeur is.

“Die sypaadjie is geplavei. Ek het ingegaan om ondersoek in te stel. Daar het ek ‘n wag gekry wat nie beweeg het nie en my net aangestaar het. Maar toe ek foto’s wou neem, het twee vroue en nog ‘n man op my toegesak en gevra wat ek soek. Hulle het gesê ek mag nie foto’s neem nie. Die swembad is darem nou vol water.”

Trudie wil graag weet waarom daar mense is wat betaal word om die werk te doen maar die swembad is nie gereed dat die publiek dit kan gebruik nie.

Verder meen sy dat sy as ‘n belastingbetaler die reg het om te weet wat agter die hoë mure aangaan.

“Dit is trouens ons belastingbetalers wat daardie kostes betaal. Kom ons hoop en vertrou dat die swembad vanjaar nog gebruik sal kan word,” het Trudie gesê.

Die News het die munisipaliteit se mediaskakel, Nkosana Zali vir kommentaar rakende die heropening van die swembad genader. Sodra kommentaar ontvang word, sal dit in ‘n opvolgartikel gepubliseer word.

Lees verder:

Wanneer maak swembad oop?

Swembad heropen – net as reën kom

Inwoner onthou swembad-dae

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button