Local newsLocal sportNewsSport

Kom stap saam sê Stapklub

Van die Magaliesberge tot Groenkloof in Pretoria. Die Krugersdorp Stapklub is na meer as twee dekades nog doenig.

Al is die lug nog ‘n bietjie koel, belowe die Krugersdorpse Stapklub dat stappers die vars winterbriesie baie gaan geniet tydens die twee opwindende roetes wat hulle beplan.

Op 13 Augustus word die roete Shelter Rock aangepak.

Die roete is op privaat grond geleë, omtrent 55km van hier reg teen die Magaliesberg in die Skeerpoort-omgewing, net verby Hekpoort. Dit is werklik ‘n pragtige roete. Ons stap teen die berg uit, tot op die kruin vanwaar ons selfs die mynhope (dié wat nog bestaan) van Krugersdorp op ‘n mooi skoon oggend kan sien. Die uitsig hier van die kruin af is asemrowend mooi; selfs ‘n gedeelte van die Hartebeespoortdam is sigbaar.

Ons stap ook baie gemaklik op die kruin, en met die afstap rus ons onder ‘n oorhangende rots, wat ons sommer die grot noem. Die afstap is plek-plek effens steil, maar nêrens is dit gevaarlik nie. Ons braai ook gewoonlik op hierdie stap. Voorafbesprekings is noodsaaklik, dus moet stappers asseblief beslis laat weet of hulle die stap gaan meemaak. Somtyds moet jy ook maar beur en klouter teen die hoë rotse uit, maar dit bied ‘n uitdaging aan elke volbloed stapper wat die natuur liefhet in al sy vorms – maar as jy daar uitstap op pad terug, sê jy vir jouself “ek kom weer terug”.

Vir 10 September beplan die klub om die roete Achterberg aan te pak.

Hierdie roete is sommer teen ons dorp – van die bymekaarkomplek af is dit omtrent 10 minute se ry. Maar dit maak die roete nie minder mooi nie. Die beginpunt is in ‘n kloof, en daar word met die spruit langs oor die berg gestap. Daar is ‘n waterpypleiding en ‘n plek waar mense rekspronge doen. Die omgewing is pragtig en die roete is ook plek-plek oopgekap. Veral waar dit in die verlede dig bebos was, is dit nou mooi en maklik om te stap. Bo-op die koppe het jy ‘n panoramiese uitsig oor die omgewing daar vêr onder. Dit is ‘n roete wat die meeste van ons klublede ken.

Vir meer inligting oor die klub en die roetes, skakel vir Lu Ludick by 083 235 1958 of Renaldo Prinsloo by 082 879 8795 of Phillip Olivier by 083 788 4555.

Lees verder:

Stap, stap oor die berge

Heerlike lentestap – kom verfris jou siel

Stap sommer lekker saam

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button