Prisma-gemeente bedien kiesers
Verskeie persone was verbaas oor die liefdesgebaar.
Die onlangse munisipale verkiesing sal vir seker onthou word vir die snerpende koue vroegdag in en om Krugersdorp.
Tydens Woensdag, 3 Augustus se verkiesing is kiesers, verkiesingsbeamptes en verteenwoordigers van die verskillende politieke partye verras met ‘n gratis koppie warm koffie en heerlike tuisgebakte koekies by die stemlokale by Koedoepark en Rant-en-Dal Prisma-gemeente.

Die leraars en gemeentelede het die koue getrotseer en nagenoeg 500 koppies koffie uitgedeel en daardeur seker gemaak kiesers bly warm terwyl hulle vroegoggend in die rye gestaan het.
Verskeie persone was verbaas oor die liefdesgebaar en het selfs aangebied om te betaal vir die warm geskenk.

Die gesindheid onder kiesers en almal betrokke by die genoemde stemlokale was bemoedigend vir almal wat by die dag se koffieprojek betrokke was. Oud en jonk van verskillende sfere van die samelewing het gemoedelik en rustig in die rye gewag terwyl hulle hul versnapering geniet het.
Rant-en-Dal Prisma dien graag die breër gemeenskap, en sal vir seker tydens 2019 se nasionale verkiesing by meer stemlokale betrokke wees.
Lees verder:
Ballot boxes and voting documents found in veld
Standing in the voting line this year?
