Krugersdorpse ikoon Tannie Loo sterf
"Dit was eintlik haar begeerte om in haar huis dood te gaan."
Louisa Mostert, beter bekend as Tannie Loo is op die ouderdom van 100 op Woensdag, 28 September na ‘n lang lyding weens kanker oorlede.
Volgens haar aangenome kleindogter, Etresa Voget het Tannie Loo se bloeddruk omtrent twee maande gelede skielik gestyg en sy het geval. Sy is per ambulans na Dr Yusuf Dadoo Hospitaal geneem waar sy ‘n week lank was.
‘n Groep vrywilligers het haar besoek nadat sy ontslaan is. Hulle het haar huis geverf en kort-kort met haar ‘n geselsie aangeknoop.
Sy was daarna sedert 18 Augustus vir omtrent twee weke weer in die hospitaal, maar aangesien dokters niks meer vir haar kon doen nie, is sy terug huis toe.
“Dit was nie vir Tannie Loo noodwendig ‘n slegte ding nie,” het Etresa gesê. “Dit was eintlik haar begeerte om in haar huis dood te gaan.”
Op haar laaste het Ria Basson van die Theodore Huis vir Bejaardes gereeld versorgers gestuur om ‘n handjie by te sit.
Tannie Loo het in die vroeë oggendure van Woensdag, 28 September, wakker geword en die inwoners van die huis het geweet dit is tyd. Hulle het ‘n ambulansdiens gebel om haar te kom help.
“Ek kan werklik getuig dat die Netcare 911-paramedikus haar op alle moontlike maniere bygestaan het,” het Etresa gesê. “Hulle fantastiese diens het ook gemaak dat die lykswa haar oorskot kort daarna kom haal het.”
Tannie Loo se begrafnis vind op Dinsdag 4 Oktober vanuit die Volle Evangelie Kerk in Krugersdorp plaas. Mogale City Burgemeester Lynn Pannall en haar span het die blomme vir die begrafnis gereël.
“Dankie vir al die liefde en ondersteuning wat die gemeenskap oor die jare vir Tannie Loo gegee het. Elke glimlaggie en helpende hand het haar lewe op die aarde opgekikker.
Lees verder:

