Verkiesingskoors: VF Plus-leier besoek Krugersdorp
VF Plus-leier dr Corné Mulder het tydens die party se Dit is Tyd-Toer inwoners van Krugersdorp oor dienslewering en die komende munisipale verkiesing toegespreek.
Die Vryheidsfront Plus se nasionale leier, dr Corné Mulder, het op 18 September tydens die party se Dit is Tyd-Toer met inwoners van Krugersdorp gesels.
Die besoek het by ’n plaaslike seniorleefstylsentrum in Monument plaasgevind. Volgens raadslid Amy Steyn vorm dit deel van die party se Dit is Tyd-Toer, waartydens Mulder verskeie dorpe regoor die land besoek.
Mulder, wat in Krugersdorp gebore is, het tydens sy toespraak oor onderwerpe soos dienslewering, moontlike oplossings vir plaaslike uitdagings, die party se manifes en die komende munisipale verkiesing gepraat.
Volgens Steyn het sowat 60 mense die geleentheid bygewoon, waartydens die party ook sy plaaslike koukus aan inwoners bekendgestel het.
Steyn sê die goeie opkoms was een van die hoogtepunte van die dag en volgens haar dui dit op belangstelling in die VF Plus in Mogale City.
