Oud-Burgemeester sterf
Hy is gedurende die vroeë tagtigerjare van die vorige eeu tot die Raad van Krugersdorp verkies.
Dit is reeds meer as ‘n maand na die afsterwe van die welbekende en geliefde Oom Wiets Botes van Silverfields wat vir ongeveer ses dekades in sy Silverfields-huis gewoon het.
Hy was in Krugersdorp en in die land bekend as ‘n uitstaande vakbondman wat verskeie arbeidsaangeleenthede op regeringsvlak en ander terreine in die destydse SAS en H hanteer het.
Hy is gedurende die vroeë tagtigerjare van die vorige eeu tot die Raad van Krugersdorp verkies en was in 1983 Burgemeester waar hy hom weereens as ‘n uitstaande persoon aan sy geliefdes en die gemeenskap bewys het.
“Aan Wietsie Johannes Botes wat die rype ouderdom van 88 jaar en nege maande behaal het, sê ons dankie vir die ongelooflike dierbare mens wat hy vir sy medemens, sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders was en wat soveel vir elkeen beteken het met wie hy ooit te doen gehad het,” het Drietjie Meintjies gesê.
“Hy het die aarde kom bewandel en sy Goddelike opdrag met eer en waardigheid kom uitleef teenoor almal wie se paaie hy gekruis het.
Dankie vir die wysheid, insig en kennis waarmee hy die Stadsraad en die gemeenskap van Krugersdorp in sy ampstermyn gedien het. Ons salueer hom vir die mens wat hy was en sal hom nooit vergeet nie.”
