Editor's choiceMunicipalNews

Opgradering van raadsaal moet wag, sê koalisie

"Dit blyk dat dié projek geoormerk is om die laaste bietjie uit die geldkas te stroop."

Die nuwe koalisieregering in Mogale City het gedurende hul jongste raadsvergadering ‘n voorstel vir die opgradering van die raadsaal teen meer as R7,4 miljoen as belaglik en lagwekkend beskou.

Volgens dié voorstel wat deur die vorige bedeling nagevors en voorgestel is, kan ‘n addisionele R704 129 by die R7 401 290 gevoeg word om voorsiening te maak vir ‘n 10-persent verhoging in bedryfskoste.

Raadslid Amanda de Lange van die VF Plus-koalisie het die uitleg en monitering van die projek bevraagteken.

“Daar is ‘n vae uiteensetting van hoe die geld gespandeer gaan word. Dit is onaanvaarbaar. Dit blyk dat dié projek geoormerk is om die laaste bietjie uit die geldkas te stroop.

“Die huidige raadsaal dien nog sy doel. Daar is ‘n toename in openbare belangstelling, maar dit sal stabiliseer. Vir eers is daar belangriker sake waaraan aandag geskenk moet word.”

Die raad het die kwotasie bevraagteken, onder meer die R2 miljoen vir skrynwerk en stoele, ‘n verdere R1,5 miljoen vir die trappe en afwerking, R450 000 aan die plafon, R85 000 aan deure en toebehore, R200 000 aan ‘n sekuriteitsdeur en R350 000 aan die mure en vloer. Daar is ook ‘n en nóg R229 250 vir onvoorsiene uitgawes. Die professionele gelde beloop net onder R1m.

Volgens die verslag sal die werk en voorbereiding sowat agt maande duur.

Die raad het na oorweging besluit om die item na die betrokke komitee terug te verwys.

“Met die stigting van ‘n koalisieregering is die VF Plus deel van die besluitnemingsproses om te sorg dat belastingbetalers se geld produktief aangewend word,” het De Lange afgesluit.

Lees verder:

Mogale’s COO in court

FF+ not impressed by Soca

Ratepayers to confront municipality

West Rand hunting ground for criminals

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Janine Viljoen

Janine Viljoen is a seasoned journalist with more than 17 years’ experience. She has worked as a newspaper editor, mentored numerous journalism students, and is currently the sub-editor for the award-winning Caxton Joburg West publications. Her passion lies in developing young journalists and telling compelling human-interest stories.
Back to top button