Editor's choiceLocal newsNews

Kom ons Braai kuier in Krugersdorp

Maar wie het weggestap met die wentitel en tonne pryse?

Drie paartjies, drie vure, drie dae en net drie woorde: kom ons braai!

Die DStv-kanaal, Via, se gewilde Kom ons Braai-program het in Augustus by Krugersdorp kom inloer waar drie paartjies die geleentheid gehad het om te wys hoekom hulle die dorp se braaikonings is. Die episode is op 30 September uitgesaai.

Emay en Andrew van Wijk van Noordheuwel.
Emay en Andrew van Wijk van Noordheuwel.

Rhonette en Wimpie Reid van Kenmare, Jackie en Hannes le Roux van Mindalore tesame met Emay en Andrew van Wijk van Noordheuwel was die gelukkige paartjies wat gekies is vir die program. Rhonette het gesê ‘n vriend het haar op Facebook van die program laat weet terwyl Hannes saam met sy swaer wou deelneem, maar nie kon nie want net paartjies mag deelneem. Emay en Andrew volg die program al sedert die eerste episode en het saam besluit om in te skryf en dit as ‘n lekker uitdaging gesien.

Al wat hul moes doen was braai!

Drie dae is in Augustus vir die opname van die episode eenkant gesit en die eerste oggend van 9vm af het Via se kameraspan elke paartjie begin afneem. Alles is noukeurig uit elke hoek afgeneem. Daar is onderhoude gevoer en resepte bespreek, maar net een paartjie kon uiteindelik na die drie dae koning kraai as braaimeesters.

“Dit was eintlik ‘n baie stresvolle dag. Mens besef nie hoe uitputtend so ‘n opname kan wees nie,” het Rhonette gesê.

Jackie het byvoeg dat daar baie reëls gevolg moes word en dat hulle maar taamlik keelvol vir braai was na die drie dae.

Maar ten spyte van die reëls en baie braai, stem elke paartjie darem saam dat dit ‘n ongelooflike lekker ervaring vir hulle was aangesien hulle almal vriende geword het.

Die paartjies wat aan Kom ons Braai deelgeneem het is Jackie en Hannes le Roux, Andrew en Emay van Wijk en Rhonette en Wimpie Reid.
Die paartjies wat aan Kom ons Braai deelgeneem het is Jackie en Hannes le Roux, Andrew en Emay van Wijk en Rhonette en Wimpie Reid.

“Dit was ‘n baie lekker paartjie-uitdaging, ons het die kompetisie daarvan baie geniet,” het Emay gesê.

Maar wie het weggestap met die wentitel en tonne pryse? Elke paartjie moes na die groot eet die braaipaartjie beoordeel en die totale is opgetel om ‘n wenpaartjie te bepaal. Tot hul eie verbasing is Emay en Andrew as die wenners aangewys.

“Ons het dit glad nie verwag nie. Ek meen as jy die program gesien het, sou jy gesien het ons braai was nogal ‘n ramp,” het Andrew laggend gesê.

Wat is volgende vir die paartjies?

“Nou wil ons inskryf vir Laat die potte prut,” het Hannes ondeund gesê.

Kyk gerus na Media Club Productions se Kom ons Braai elk Vrydagaand om 6nm op Via, DStv-kanaal 147.

Soortgelyke artikels: 

Consumers expected to braai more

Sizzling braai tips for summer

One braai, one nation at the heart of Heritage Day

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button