Giel en Maxie Schwiegers het hulle 60ste huweliksherdenking op 27 Oktober gevier en hul liefde vir mekaar is steeds sterk.
Giel het aan die News gesê dat hulle mekaar by ‘n volkspelepartytjie ontmoet het toe Maxie 18 en hy 20 jaar oud was.
“Ek sal weer met Giel wil trou,” het Maxie trots gesê. Die rede is dat haar liefde vir Giel so uniek is. Sy het vertel dat hulle wel hul nukke en streke het, maar hulle gaan slaap nooit kwaad vir mekaar nie.
Hulle lees graag saam en help in die biblioteek van die tehuis waar hulle woon. Maxie glo dat jong getroude paartjies nie dinge uitpraat nie en dat dit die rede is waarom huwelike misluk.
Tydens die onderhoud het Giel nie baie gesels nie. “Ek hoor niks, ek sê niks, maar ek sien alles,” het hy gesê.
Hulle wenke aan jong paartjies is om te kommunikeer, mekaar lief te hê en saam te werk.
Die News wens Giel en Maxie baie geluk met hierdie mylpaal.
Verwante arikels:
• 60 gelukkige en gesonde jare
• Paartjie haal halfeeu mylpaal
