Kinders van pa ontneem deur sinnelose moord
Sy vrou het geweerskote gehoor en later haar man in 'n plas bloed ontdek.
Terwyl die hele Wes-Rand die stormweer dophou, is ‘n 45-jarige pa Donderdagaand, 10 November, voor sy familie op hul plaas in Protearif, Krugersdorp vermoor.
Daar word beweer dat die vrou besig was om saam met haar kinders TV te kyk toe vyf onbekende mans die huis binnegestorm het.
Al vyf verdagtes het vuurwapens gehad.
Die vrou het om hulp geskree en haar man het uit die slaapkamer gekom. Toe hy in die sitkamer kom, het die verdagtes hul vuurwapens op hom gerig. Hulle het hom in die kamer teruggedwing. Die vrou het geweerskote gehoor en later haar man in ‘n plas bloed gekry.
Die verdagtes het ‘n vuurwapen, geld en die televisiestel gesteel voordat hulle van die toneel gevlug het. Die man is op die toneel dood verklaar.
Brigadier Baloyi, Krugersdorp Polisie se stasiebevelvoerder het sy innige simpatie teenoor die familie uitgespreek.
“Mag sy siel in vrede rus,” het Baloyi gesê.
Verder het die Brigadier ‘n toegewyde en goed opgeleide ondersoekbeampte aangestel om seker te maak dat die verdagtes opgespoor en gearresteer word.
“Die verdagtes het kinders van hul pa ontneem,” het hy gesê. “Hulle sal toegesluit word vir die sinnelose moord wat hulle gepleeg het.”
Baloyi doen ‘n beroep op die gemeenskap om enige relevante inligting aan die polisie oor te dra sodat die verdagtes gearresteer kan word. Skakel die Krugersdorp Polisie by 011 951 1151 met inligting.
Soortgelyke artikels:
Muldersdrift murder leaves a void
