Editor's choiceLocal newsNews

Is die regte stappe gevolg?

'n Paartjie was betrokke in 'n motorongeluk met 'n beweerde dronkbestuurder en voel dat die owerhede nie die korrekte stappe gevolg het nie.

‘n Vrou wat sewe maande swanger is, is bekommerd oor haar ongebore baba nadat sy en haar man in ‘n ernstige motorongeluk betrokke was.

Die ongeluk het op 20 Februarie omstreeks 8.30pm in Paardekraalrylaan plaasgevind. Die vrou beweer dat die motor wat van agter af in hulle vasgery het, se hoofligte nie aan was nie en dat sy en haar man by die verkeerslig gewag het toe die ongeluk gebeur het. Haar man het uit hul motor geklim en na die ander persoon toe gestap.

“Die persoon het na drank geruik en het baie gemompel. Ek het dadelik geweet dat die man onder die invloed van alkohol was,” het die man gesê. Die paartjie wou nie hulle name bekendmaak nie aangesien hulle bang is hulle word geviktimiseer.

Die insittendes van ‘n patrollievoertuig van die plaaslike polisie het die ongeluk gesien en by die toneel gestop. Volgens die egpaar was daar twee polisielede waarvan een die verklaring afgeneem het. Die egpaar het daarop aangedring dat die persoon getoets word vir alkohol, maar die polisie het gesê dat hulle nie die nodige toerusting het nie. Die bestuurder het toe ook probeer om die skuld vir die ongeluk op die egpaar te pak en het gesê dat die verkeerslig groen was vir hulle om oor te ry.

“Die polisie het ook heeltyd met die bestuurder in ‘n ander taal gepraat sodat ons nie kon verstaan nie,” het die vrou gesê.

Sy het ook vertel dat sy daarop aangedring het dat die polisie ‘n ambulans bel, wat wel later opgedaag het, maar net verby die toneel gery het. Die betrokke ambulansmaatskappy is onbekend.

Op die toneel het die polisielid ‘n ongeluksverklaring ingevul en elkeen van hulle se besonderhede geneem. Die polisie het toe die vermoedelik dronk bestuurder in die vangwa gelaai en weggery.

Die vrou is dieselfde aand in die hospitaal opgeneem. Die volgende dag is haar man na die Krugersdorp Polisiestasie om die saak met die ondersoekbeampte te bespreek. Tot sy verbasing het hy verneem dat die ongeluk nooit aangemeld is nie. Die man het aan die News gesê dat daar geen rekord van die ongeluk was nie.

Die Krugersdorp Polisie se woordvoerder, sersant Tshepiso Mashale, het ‘n week na die ongeluk aan die News bevestig dat die verdagte dieselfde aand getoets en toegesluit is vir dronkbestuur.

“Daar was geen onregmatighede met die prosedures wat gevolg is nie,” het Mashale gesê.

Die News het ook ‘n plaaslike paramedikus gevra wat die korrekte prosedure en metode is om bestuurders vir alkohol te toets.

“Slegs die Metropolisie en Mogale City-verkeersbeamptes mag aan ons opdrag gee om persone wat vermoedelik onder die invloed van alkohol is na ‘n fasiliteit te neem waar hulle getoets kan word. Die plaaslike polisie en ons paramedici het geen apparate of toestelle om dit self vas te stel nie,” het Denver Ramnarain van Quick Response Services gesê.

Denver het ook aan die News gesê dat pasiënte soms dronk voorkom as gevolg van ‘n besering.

Die paartjie het egter besluit om die saak nie daar te laat nie en het regshulp gekry. Die vrou ontvang steeds fisioterapie vir die rugbesering wat sy opgedoen het en haar baba se vordering word gemoniteer.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein HeraldRoodepoort RecordGet It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button