Editor's choiceLocal newsNews

Projek Hande vat vir Liefde wil minderbevoorregtes help warm bly deur die bibberkoue winter

Die News-span saam met Mej SA finalis Shelbe Pretorius sowel as lede van die Amandel Aksie-span wil graag hierdie winter 'n verskil maak.

Koue winteraande is dalk binnekort iets van die verlede vir die minderbevoorregtes van Krugersdorp.

Die News-span in samewerking met die Amandel Aksie-span van die Suiderlig Gemeente in Krugersdsorp-Wes en Mej SA 2017-finalis, Shelbe Pretorius het besluit om saam ‘n projek van stapel te stuur om gebreide komberse vir ‘n diereskuiling en ‘n ander organisasie wat dit broodnodig het, te skenk.

Die projek het onlangs afgeskop en die gebreide produkte sal om en by die einde van Mei, voor die winter behoorlik by ons voordeur inloer, aan die begunstigdes uitgedeel word. Daar is verskeie persone wat gedurende die winter nie die voorreg het om in ‘n warm bed onder ‘n warm kombers aan die slaap te raak nie. Diere in skuilings is ook soms vergete en moet snags in koue hokke op sementvloere slaap. Die News-span saam met Shelbe en die lede van die Amandel Aksie wil graag hierdie winter ‘n verskil maak.

Lydia Phakatha geniet haar gebreide kombers wat onlangs deur die publiek gemaak en geskenk is.

Na ‘n lang kopkrapproses is daar op ‘n naam vir die projek besluit: Hande vat vir Liefde.

Hier is ‘n paar vrae en antwoorde oor wat die projek behels en wie daarby betrokke is:

Wat is Amandel Aksie?

Lede van die Amandel Aksie-span Nadia Allen en Annatjie Viljoen.

Amandel Aksie is ‘n groep wat uit 33 lede bestaan. Die lede kom elke Woensdag by die Suiderlig Gemeente bymekaar om te bid en om te kuier. Die lede wil egter ‘n verskil maak en teruggee aan die gemeenskap. Hulle het dié jaar besluit om die News te nader om deel te word van hulle oorspronklike breiprojek.

Wie is Shelbe Pretorius?

Mej SA 2017-finalis, Shelbe Pretorius het met die News en Amandel Aksie hande gevat om van hierdie projek ‘n sukses te maak.

Shelbe, 23, is ‘n nederige inwoner van Krugersdorp. Sy was onlangs ‘n top 12-finalis in die Mej Suid-Afrika 2017-kompetisie. Sy help gereeld organisasies en is bekend daarvoor dat sy haar hart oopmaak vir minderbevoorregtes. Die News het Shelbe genader om deel te wees van die projek.

Hoe gaan die projek werk?

Hande vat vir Liefde beplan om drie soorte komberse in te samel of te maak, wat dan aan minderbevoorregtes geskenk sal word:

1. Die eerste is ‘n eenvoudige gebreide kombers waarvoor enige wol gebruik kan word.

2. Die tweede is knoopkombers. Vir dié kombers word net polar fleece gebruik.

3. Die derde kombers wat die span in gedagte het, is ‘n tipe plastiekkombers of -mat waarop diere by ‘n diereskuiling kan slaap. Vir hierdie kombers/ mat kan enige plastieksakke gebruik word.

Wat ons van die gemeenskap vra:

• Enige breiwol, enige kleur en enige dikte

• Enige winkelplastieksakke (Pick n Pay, Checkers, Spar, President Hyper, Woolworths ens)

• Polar fleece

• Hande – van mense wat bereid is om te help brei

• Enige ander gebreide item soos ‘n serp of mussie

• ‘n Kontantdonasie indien jy nie kan/ wil brei nie maar wel ‘n bydrae wil lewer. Jy kan jou donasie in die kerk se bankrekening inbetaal by: Absa tjekrekeningnommer 3 1058 1038, takkode 632005, verwysing: Handevat.

Maar wat as ek self iets wil maak en skenk?

Hande vat vir Liefde gaan werkswinkels aangebied vir die gemeenskap. Die werkswinkel sal oor twee dae strek. Op dag een gaan die tegniek om die knoopkombers te maak, gedemonstreer word en die volgende dag sal die plastiekkombers gedemonstreer en gemaak word. Die werkswinkels sal oop wees vir die publiek en alle komberse wat op dié dae gemaak word, sal ook vir die projek geskenk word. Die News sal later die datum en plek van die werkswinkel aan die lesers deurgee.

Wie gaan die komberse ontvang?

Hande vat vir Liefde het besluit om die komberse aan twee groepe te skenk. Een van die ontvangers is die diereskuiling The 9th Day Animal Shelter waar daar tans meer as 140 honde is. Suiderlig sal besluit oor die tweede organisasie maar hul kerkraad wil graag die gemeenskep hierby betrek. Hulle vra dat organisasies wat die komberse nodig het, na vore sal kom of deur lede van die publiek geïdentifiseer word. Voorstelle kan aan joernalis Nadine Maré gestuur word by nadinem@caxton.co.za.

Waar kan jy jou bydrae aflewer?

By die News se kantoor in Witpoortjie, op die hoek van Generaal Pienaarlaan en Hamstraat. Nadine kan ook gekontak word by 083 959 4906. Nadia Allen, wat deel vorm van die Amandel Aksie is ook gewillig om bydraes te gaan oplaai en is by 082 849 7512 bereikbaar.

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at krugersdorpnews@caxton.co.za or phone us on 011 955 1130.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister websites: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button