Grootste geskenk is om bloed te skenk
Die hospitaalspan het 'n teiken van 60 eenhede gestel en dit met twee eenhede verbygesteek.
Die feestyd is om die draai en Netcare Krugersdorp Hospitaal het gehelp dat die plaaslike bloedbank goed voorbereid is.
Die hospitaal het onlangs ‘n bloedskenkdag gehou en die publiek genooi om bloed te skenk. Die hospitaalspan het ‘n teiken van 60 eenhede gestel en dit met twee eenhede verbygesteek.
Die News het die geleentheid bygewoon en met die gemeenskap gesels. Chris en Margaret Schneider het aan die News vertel dat hulle as egpaar gereeld saam bloed skenk. Chris se seun is sewe jaar oud en is in Januarie 2016 met bloedkanker gediagnoseer.

“Hy het gereeld bloedoortappings nodig en daarom skenk ek bloed,” het Chris gesê.
Die hospitaal se woordvoerder, Liesl-Mari Simon, het ook haar verhaal vir die News vertel. Sy het vertel dat hoewel sy nie kan bloed skenk nie, sy met die skenkdae baie betrokke is, veral met die voorbereiding. Sy voel dat sy so haar deel vir die gemeenskap doen.
Die susters van die intensiewesorg-eenhede het ook bloed geskenk omdat hulle elke dag sien hoeveel bloed in hul afdeling benodig word.
Die hospitaal bedank graag elke persoon wat by die dag betrokke was, hetsy deur bloed te skenk of inligting te versprei.
“Ek wil graag my wonderlike span bedank op wie se knoppies ek altyd kan druk, en ook die gemeenskap wat vandag die geskenk van lewe vir iemand anders gegee het,” het Liesl-Mari gesê.
Deelname is een van die hospitaal se belangrikste waardes. Die bloedskenkdae is een van die inisiatiewe waaraan hulle deelneem en waarby die gemeenskap in geheel baat.
Die hospitaal nooi graag die gemeenskap om gereeld deel te neem aan bloedskenkdae en so ‘n verskil in iemand anders se lewe te maak.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at krugersdorpnews@caxton.co.za or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister websites:
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!
