Trots Afrikaans, trots op haar erfenis
Mathilda Steyn glo taal, tradisies en familieverbintenisse speel ’n belangrike rol om haar Afrikaanse kultuurerfenis vir toekomstige generasies lewend te hou.
Vir Mathilda Steyn is haar Afrikaanse kultuurerfenis meer as net ’n taal – dit is ’n belangrike deel van haar identiteit en van wie sy is.
Die Pinehaven-inwoner en oud-leerder van Hoërskool Noordheuwel (Norie) sê sy waardeer haar erfenis omdat dit haar verbind met haar familie, tradisies en die mense om haar.
Sy beskryf haar kultuur as familiegeoriënteerd en trots, met ’n liefde vir lekker kos, kuier en mense.
“Ek dink daar is iets besonders aan jou taal, tradisies en die stories wat jy van jou kultuurerfenis af kry,” sê sy.
Volgens Steyn gee Afrikaans haar ’n sterk gevoel van identiteit en samehorigheid. Sy is veral trots op die taal en sy unieke manier van praat.
“Afrikaans kan op een of ander manier terselfdertyd die mooiste én snaaksste taal wees. Watter ander taal het ’n woord so oulik soos klopdisselboom?”
Steyn glo dit is belangrik om kultuur aktief te bewaar deur die taal te praat, tradisies voort te sit en dit aan volgende generasies oor te dra.
Vir haar speel kos, musiek en taal ’n groot rol om kultuur lewendig te hou. Sy glo Erfenisdag herinner Suid-Afrikaners daaraan dat hul verskillende kulture gevier en gerespekteer moet word.
