[KYK] Geliefde Muriel ‘n inspirasie op 90
Tannie Muriel is 'n inspirasie vir almal en almal is lief vir haar.
Gesond, geseënd en lekker bederf op haar 90ste verjaarsdag.
Muriel Claassen, ‘n inwoner van die Jack Cotton-staatstehuis, het onlangs haar 90ste verjaarsdag gevier en is omtrent bederf. Die Emmers Vol Liefde-organisasie het gesorg dat die dag ekstra spesiaal vir Muriel was omdat sy so ‘n groot rol in die gemeenskap en in die tehuis speel. Emmers Vol Liefde is ‘n liefdadigheidsorganisasie wat daarna streef om die nood, veral by bejaardes, in Krugersdorp te verlig. Die organisasie het lekkernye en drinkgoed vir die dag voorsien. Key West Winkelsentrum se Milky Lane het besluit om vir tannie Muriel ‘n yslike roomyskoek te skenk, wat die inwoners van die tehuis terdeë geniet het.

Muriel is ‘n inspirasie vir almal en almal is lief vir haar. Die inwoners kon nie uitgepraat raak oor haar goeie hart nie en almal is oortuig dat haar ouderdom daaraan te danke is.
“Sy is ‘n dierbare mens en sy het altyd ‘n glimlag op haar gesig,” het Joey Kruger gesê.
Muriel het aan die News vertel dat sy baie bevoorreg is en geseënd voel om so oud te kan wees. Sy het ook vertel dat haar gesondheid nog baie goed is en dat al kwaal wat sy het haar swak sig en gehoor is.
“Ek het al baie voetspore in die wêreld getrap,” het Muriel gesê.
Sy is baie trots op haar vier kinders, 11 kleinkinders en 11 agterkleinkinders wat haar baie bederf en haar op haar tone hou. Muriel het ook laggend vir die News vertel dat sy tans die oudste in die tehuis en in haar gemeente is. Muriel se mooi hart en haar liefde vir haar medemens kan nie misgekyk word nie.

“Ek bid vir alles en almal en ek vergeet en vergewe altyd,” het Muriel gesê.
Sy het al baie dinge bereik in haar lewe. Sy neem elke dag soos dit kom en bid elke dag vir genade, gesondheid en seën.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
