Onthou jy nog … hoe goedkoop alles was?
In 1986 was die prys van brandstof 37 sent 'n liter.
Onthou jy nog hoe anders inkopies in die 1980’s en selfs die 1990’s gelyk het?
Die pryse is beslis nie meer wat dit 31 jaar terug was nie. Grappies uit 1980 is nie meer oorspronklik nie en die bekende Spice Girls-tekkies is heeltemal uit die mode!
Om terug te dink aan daardie tyd kan verskillende emosies en herinneringe wakker maak – herinneringe waaroor ons vandag lekker kan lag, maar ook wat ons bitter ongelukkig kan laat voel.
“Ek sou kon doen met ‘n miljoen,” het Lucas Maree gesing, maar die waarde van ‘n miljoen is vandag aansienlik minder as toe.
Dis die jaar 1986:
Die prys van brandstof was 37 sent ‘n liter! ‘n Advertensie in ‘n April-uitgawe van die Krugersdorp Nuus dui aan dat ‘n pak van agt tweelaag-toiletrolle R4,59 gekos het. Vandag betaal ons ongeveer R47 vir nege rolle. Dieselfde item se prys is meer as 10 maal hoër.

Een kilogram outomatiese waspoeier was op spesiale aanbod vir R2,79. Vandag word waspoeier op spesiale aanbod vir R39,99 verkoop. Dieselfde item se prys is meer as 14 maal hoër.

Die syfers laat mens se moed in jou skoene sak want jy besef hoe tye en die waarde van jou geld werklik verander het.
Dis die jaar 2017:
Die News het die gemeenskap betrek om hul herinneringe van die verlede te deel.
“In 1983 was my salaris R300 en ek het alles daarmee betaal – my woonstel, kos, brandstof en ontspanning. Dit was baie lekker dae gewees,” het Barend Keet gesê.
Geld was in die ou dae min, maar die herinneringe volop.

Die News wil graag van die gemeenskap se herinneringe van Krugersdorp hoor. Stuur gerus ‘n epos na joernalis Nadine Maré by nadinem@caxton.co.za. Haal daardie ou foto’s uit die kas en vertel vir ons van jou goue herinneringe.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at krugersdorpnews@caxton.co.za or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister websites:
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!
