Krugersdorp-nooi is die mooiste in die land
Noudat die kompetisie klaar is, moet ek steeds minstens een keer 'n maand 'n liefdadigheidsprojek behartig.
Een van Krugerdorp se mooiste eerstejaarstudente, Bianca Rautenbach, het vroeg in die jaar bo honderde ander meisies van regoor die land uitgeblink toe sy die Mejuffrou Junior Suid-Afrika-titel loshande gewen het.
Bianca het tydens haar matriekjaar in 2016 nie net huiswerk gedoen en toetse geskryf nie, maar sy het ook liefdadigheidswerk gedoen as deel van die kwalifiseringsvereistes vir die kompetisie. Sy het met gemak die top 12 gehaal en met 11 van die mooiste en groothartigste tieners in die land gekompeteer. Sy het tussen 4 en 8 April aan die finale deel van die kompetisie deelgeneem waar sy die afdelings vir beste onderhoud, beste model, Mejuffrou Fotogenies en beste beoordelaar gewen het.

Aan die einde van die laaste aand is sy as die mooiste in die land gekroon.
Sy het vertel dat die kompetisie straf was en aangesien haar titel ‘n werkende een is, weet sy die harde werk is glad nie verby nie.
Die kompetisie was straf en die beoordelaars streng aangesien hulle die oudste groep in die kompetisie was.
“Ons moes verskriklik baie liefdadigheidswerk tydens die kompetisie doen,” het Bianca gesê. “Ons moes ook mimi pads en desk pads regoor die land bemark en versprei. Noudat die kompetisie klaar is, moet ek steeds minstens een keer ‘n maand ‘n liefdadigheidsprojek behartig. Gelukkig is ek verskriklik lief daarvoor.”

Sy het gesê dat sy uiteindelik die vermoë het om ‘n verskil landswyd te maak. “Maar wat vir my besonders is, is dat ek ook kan fokus op Krugersdorp, ‘n plek wat my ongelooflik na aan die hart lê. Ek kan nou my eie mense ook help.” Sy het gesê sy hoop die titel is goeie publisiteit vir die dorp ook. “Ek sal altyd ‘n trotse Krugersdorper bly,” het sy gesê.
Bianca wil egter eers op haar studies as eerstejaaronderwysstudent fokus. “Die kompetisie was rof, en ek moes bitter goed beplan om tyd te hê vir skool ook. Noudat ek ‘n student is, gaan my tydsbeplanning perfek moet wees. Maar ek is nie té bekommerd nie, want ek dink nie enigiets is onmoontlik nie.”
Sy het haar ma Carlene en haar afrigter Valerie Begbie bedank vir hulle oneindige ondersteuning, liefde en toewyding.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at krugersdorpnews@caxton.co.za or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister websites:
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!
