Drie wonderwerke op een slag
Al drie babas moes in die hospitaal bloedoortappings kry.
Nadat Tanya en Michael Collett drie jaar lank vir ‘n wonderwerk gebid het, het drie wonderwerkies onlangs hul weg na die Colletts gevind.
Mia, Nina en Imke is in die Netcare Krugersdorp Hospitaal op slegs 28 weke gebore. Die drieling is hulle ouers se trots, maar die pad na genesing was egter nie so maklik vir die Collett-gesin nie.
Die drieling was tussen ses en agt weke in die neonatale intensiewe sorgeenheid wat volgens Tanya ‘n baie moeilike tyd in hul lewens was.
“Elke dag was daar ‘n ander komplikasie,” het Tanya gesê.
Al drie babas moes gedurende hulle tydperk in die hospitaal bloed kry – Imke vier keer, en Mia en Nina elk een keer. Mia was ‘n baie sterk baba en het vir net drie weke suurstof ontvang. Nina en Imke moes vir sewe weke lank suurstof ontvang.
“Die meeste babas met ‘n geboortegewig van minder as een kilogram kry binne die eerste paar weke na geboorte verskeie rooibloedseloortappings. Die baba se dokter skryf voor hoeveel bloed die pasiëntjie moet ontvang – gewoonlik tussen 10 en 20ml per kg.
Bloedarmoede by vroeggebore babas kan veroorsaak word deurdat ystervervoer deur die plasenta en fetale eritropoïese nie voltooi is nie,” het Ronald G Strauss, ‘n professor in patologie en pediatrie gesê.
Alle pasgebore babas se sirkulerende rooibloedselle verminder gedurende die eerste paar weke na geboorte. Dit kan veroorsaak word deur verskeie fisiologiese faktore maar by siek, vroeggebore babas kan daar verskeie ander oorsake ook wees. In die meeste gevalle word dit veroorsaak deur die verlies aan bloed wat vir laboratoriumtoetsing getrek word.
Die drieling weeg tans meer as vyf kilogram. Hulle is gesond en hou hul trotse ouers baie besig.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
