Harley se veeartsrekening betaal!
Die kliniek het ingestem om haar vir so lank as wat nodig is te behandel en te versorg totdat sy gereed is om na haar 'vir ewig' tuiste te gaan.
Sewe weke nadat Harley oorhandig is aan die Silverfields Dierekliniek, het ‘n onbekende man tot haar redding gekom.
Harley is tussen een en twee jaar oud en is vermoedelik ‘n verdwaalde hond wat roerloos voor ‘n inwoner se hek in Lewisham op 16 Maart gekry is.
Lees ook: Harley wag steeds vir haar familie
Harley is vermoedelik deur ‘n motor raakgery en een van haar agterbene is op drie plekke gebreek. Al haar tone is ook gebreek. Sy bly sedert die insident by die dierekliniek, waar sy al die nodige behandeling ontvang. Ten spyte van die hoë koste van haar behandeling het die kliniek ingestem om Harley vir so lank as wat nodig is te behandel en te versorg totdat sy gereed is om na haar ‘vir ewig’ tuiste te gaan.
Die kliniekontvangsdame, Emma Oosthuizen, het onlangs die News in kennis gestel dat Harley se veeartsrekening ten volle betaal is deur ‘n barmhartige Samaritaan.
“Ons is so verbaas en dankbaar dat ons skoon vergeet het om die persoon se naam te vra. Ons wil hom weereens bedank vir dit wat hy vir ons en vir Harley gedoen het,” het Emma gesê.
Dié vrygewige daad word baie deur die kliniek en Harley, wat tans goed aansterk, gewaardeer. Sy is ook nou gesteriliseer en ingeënt, maar wag steeds vir haar ‘vir ewig’ tuiste.
Lees ook: Harley kry ‘n tweede kans
As iemand belangstel om haar aan te neem, kan hulle die kliniek op 011 955 4338 skakel vir meer inligting.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
