Local newsNews

Suiderlig bak 10 000 pannekoeke in een dag

Hulle het ook talle ander eetgoedjies verkoop wat deur die kopers verslind is terwyl Dozi Ou Ryperd gesing het.

Die NG Suiderlig Gemeente het ‘n rekordaantal pannekoeke tydens hul basaar gebak en verkoop. Die kerk se jeug en ‘n groot aantal vrywilligers het naastenby 10 000 pannekoeke verkoop.

Op Vrydag, 2 Junie het rye en rye vrywilligers van alle ouderdomme van so vroeg as 9vm gestaan en pannekoek bak.

Lees ook: Suiderlig se bejaardes word bederf

Eben Grobbelaar gooi ‘n pannekoek in die lug.

Frans Jooste, 84, het ook seker gemaak dat hy as bobaasbakker uitgeken word. Met sy rooi hoed en spoggerige voorskoot het die haan onder die henne gestaan en bak.

“Ek bak al pannekoek vandat ek 16 jaar oud is,” het Frans trots gesê. “Al wat ‘n mens kan doen as jy pannekoek bak – ook in die lewe – is vasbyt en opkyk, want genade en krag kom net van Bo.”

Adel Botes het ook trots gestaan en bak. “Dis nie net die bak wat lekker is nie, maar die gesels, interaksie en saamwees wat goed is vir elke bakster se gemoed,” het Adel gesê.

Hailey en Paige Swartz, twee leerlinge van Monument Primary het in hulle skoolklere die baksters gehelp om pannekoeke te rol.

“Ons is vreeslik lief vir pannekoek want dit is soet en warm,” het Paige gesê.

Die gemeente het ook 2 000 corn dogs, 1 000 bakkies kerrie-en-rys, en 1 500 Chipstix, boereworsrolle, jaffels en poeding verkoop wat deur die kopers verslind is.

Paige Swartz het in haar skoolklere die bakkers gehelp pannekoek rol.

Die organiseerders het nie net gesorg vir smullekker etes nie, maar het ook die kinders vermaak met springkastele, verfbal, tombola en allerhande speletjies. Daar was ook ‘n handwerkmark, plante, blomme, groente en heerlike vermaak wat die dag behoorlik vol pret gemaak het. Om die Suid-Afrikaanse kultuur hoog te hou het die Diamand4 Boereorkes deur die dag musiek gemaak en uiteindelik die mikrofoon aan die legendariese Dozi oorgegee.

Die mense van Krugersdorp-Wes kon gratis na sy vertoning kyk en sy geselskap geniet.

“Ons glo dat daar geen gemeente soos Suiderlig is nie,” het Annelie Slabbert, een van die komiteelede gesê. “Die lede werk hulle hande stompies en elkeen doen sy deel om van alles ‘n groot sukses te maak.

“’n Groot dankie ook aan die gemeenskap wat ons elke jaar so ondersteun …dis hulle wat van die fees ’n sukses maak.”

Om al die fotos van die dag te sien kyk hier.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button