Lollos kom kuier weer vir Krugersdorp-maatjies
Lollos, Lettie, Disco en Karla kom kuier weer vir hul maatjies hier in Krugersdorp.
Krugersdorp-maatjies word aangeraai om Saterdag, 24 Junie, om 10vm by die Suiderlig Gemeente se ouditorium te wees want Lollos kom weer kuier!
Lollos en sy maatjies gaan hul nuwe CD en DVD Lollos – Mallemeule kom bekendstel.
Maar waaroor gaan Mallemeule? Willa die Gorilla het vir Lollos en Lettie uitgenooi vir ete, maar hy háát dit as iemand laat is! Willa is die baas van Aapstert Bos, ‘n wonderlike pretpark met ‘n Tuimeltrein en ‘n Wolkie Wiel, en alles wat lekker is. Lollos, Lettie, Disco en Karla spandeer die hele dag in die park en geniet die speletjies en pretritte terdeë, terwyl hulle nuwe liedjies sing soos Voer die Varkie Vet, Woep-Wap en Lalalollie – maar sal hulle onthou om betyds te wees vir hul afspraak …?

Lollos het al agt CD’s en DVD’s uitgereik waarvan ses platinumstatus bereik het. Lollos het ook ‘n Sama-toekenning gewen vir die beste kinderalbum; ‘n Ghoema-toekenning nominasie in 2015 gekry, en dan het hulle ook in 2015 die Tempo Toekenning gewen vir die topverkoper-DVD.
Lollos en die karakters is so gewild dat hulle oor die afgelope paar jaar hul eie reeks produkte bekendgestel het wat onder andere storieboeke, aktiwiteitsboeke, badprodukte, klere, sagtespeelgoed, rugsakke, beddegoed, kampstoele, ‘n Lollos-partytjiereeks en dies meer insluit. ‘n Hele paar van hierdie items sal ook by die konsert te koop wees.
Gedurende die Lollos 9 – Mallemeule-konsert sal daar natuurlik ook ‘n paar ou gunstelinge van die vorige CD’s en vertonings wees! ‘n Vertoning is ongeveer 45–50 minute lank. Daar is vier akteurs in die vertoning: Lollos, Lettie, Disco en Karla.
Vir meer besonderhede oor die vertoning, stuur ‘n epos na admin@kindervermaak.co.za of skakel 082 743 8329 of 082 410 7682.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
