Editor's choiceLocal newsNews

Anorexia – ‘n stadige, wrede dood

"Hierdie is ‘n baie selfsugtige siekte. Soms is dit aspris, soms nie. Ek kry ‘n gevoel van oorwinning as ek honger raak en niks eet nie."

Vir meeste mense mag ‘anorexia nervosa’ net woorde wees.

Maar vir Madeleine Barnard, 37, is dit egter ‘n leefstyl; ‘n stadige, wrede dood.

Anorexia nervosa is ‘n eetversteuring wat gekenmerk word deur die irrasionele vrees vir kos, sowel as uiterse, lewensgevaarlike gewigsverlies. Pasiënte wat aan anorexia nervosa ly, het ‘n verwronge liggaamsbeeld en ‘n oormatige obsessiewe vrees vir vet word, selfs al is hulle gevaarlik ondergewig. Dít is die realiteit vir Madeleine.

Op laerskool is sy gespot omdat sy ‘n ‘mollige meisie’ was. Sy het vertel dat toe sy omtrent 15 jaar oud was het sy ‘n artikel gelees oor ‘n anoreksiese tweeling. “Ek het besluit dat ek – ‘n tiener met ‘n lae selfbeeld – soos hulle wou wees. Ek wou dit ook doen maar ek wou dit beter doen en nog maerder wees. Ek het dit as hanteringsmeganisme vir my depressie gebruik,” het sy vertel.

Madeleine wil ander soos sy help. Foto: Alanicka Lotriet.

Sy was toe reeds besig om siek te word. Op die ouderdom van 18 het sy in die hospitaal beland omdat sy lank niks geëet het nie en die minimum vloeistof ingeneem het. “Toe ek opgeneem is, het die dokter vir my ouers gesê dat ek ‘n geringe kans op oorlewing het, en dat hy nie seker was of ek die nag sou oorleef nie,” het Madeleine vertel. Sy was ‘n week lank in die hospitaal.

Haar kaakgewrig het probleme begin gee, wat dit vir haar moeilik gemaak het om haar mond oop en toe te maak. Anorexia nervosa-pasiënte ly dikwels aan artritis, wat die oorsaak daarvan kon wees.

Nadat sy gematrikuleer en met haar tersiêre studies begin het, het dit glo begin beter gaan. Kort voor lank het sy egter weer teruggeval in die afwaartse spiraal en minder begin eet.

“Elke keer as jy terugval is dit erger. Dis waarom ek my pa na ‘n ruk oorreed het om vir ons lidmaatskap by ‘n gimnasium te kry.

Omdat ek ‘n baie obsessiewe persoon is, het oefen my obsessie geraak, en as dit nie oefen was nie, was dit skoonmaak,” het Madelein gesê.

Sy het vertel dat sy by talle sielkundiges, psigiaters en pastorale beraders was, maar dat niks gewerk het nie.

Nadat haar pa in 2005 oorlede is, is haar ma met borskanker gediagnoseer, hoewel sy volgens Madeleine nooit gekla het nie.

“Hierdie is ‘n baie selfsugtige siekte. Soms is dit aspris, soms nie. Ek is net ongelooflik dankbaar dat ek die beste ouers gehad het. Hulle het my deur alles ondersteun. Ek haal my hoed af vir hulle,” het sy vertel.

Madeleine wil ander soos sy help. Foto: Alanicka Lotriet.

Volgens Madeleine het sy nooit afgeskakel nie omdat sy dadelik van die kos ontslae moes raak sodra sy geëet het.

“Ek kry ‘n gevoel van oorwinning as ek honger raak en niks eet nie. Dis ‘n verslawing, ‘n baie goeie gevoel. Die kloue van die siekte is reeds te diep in my en ek is gemaklik hiermee. Ek wil dit nie verander nie,”

Haar ma is in 2015 oorlede en dit was vir haar baie erg omdat hulle baie na aan mekaar was.

Madeleine wil graag die boodskap aan jong mense oordra dat daar wel hulp is en dat dit ‘n werklike stryd is. Sy weet sy is nie genees van die siekte nie, maar wil vir jong mense vertel hoe dit ‘n mens kan beïnvloed as daar nie vroeg besluit word om gesond te wees nie.

“Al kan ek net een kind help, of selfs net ‘n ouer, sodat hul kan weet hoe om hul kind te help, is dit genoeg vir my,” het sy vertel. Skakel haar gerus by 079 968 2822.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button