Vrou wat langste ter wêreld met skenkerhart geleef het, sterf
Op Woensdag, 5 Julie het sy die aarde vir die ewige lewe verlaat nadat haar organe een vir een begin ingee het.
Dit is met groot hartseer dat talle geliefdes afskeid neem van die 53-jarige Hendrika van Wyk, wat die langslewende vrou in die wêreld geword het wat ‘n skenkerhart ontvang het.
Op Woensdag, 5 Julie het sy die aarde vir die ewige lewe verlaat nadat haar organe een vir een begin ingee het, het haar ma, Marthie van der Merwe vertel.

Hendrika het egter ‘n ongelooflike nalatenskap omdat sy ‘n inspirasie vir almal was met wie sy in aanraking gekom het. Sy het 33 jaar lank met haar skenkerhart saamgeleef .
Sedert Hendrika in 1984 op die jong ouderdom van 20 ‘n hartoorplanting ondergaan het, het sy haar tweede kans op die lewe benut en voluit saam met haar man, Hendrik, en haar aangenome dogter, Rika-Mari geleef. Sy was ook meer as 30 jaar lank ‘n menslike hulpbronne-bestuurder by ‘n kwekery in Muldersdrift.
Ongeveer drie jaar gelede het sy vir die News vertel dat sy probeer om haar lewe te geniet.
“Baie mense besef nie dat geld nie geluk kan koop nie. Geniet eerder die tyd saam met familie en ander geliefdes, want jou lewe kan in ‘n oogwink verby wees,” was haar raad.
Hendrika se begrafnisdiens word op Dinsdag, 11 Julie om 2nm by die Nuwe Lewe Sentrum, Kingdonstraat 89, Quellerie Park, gehou. Enigiemand wat haar lewe wil eer is welkom.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
