Twee Monumentare sterf toe gasbottel lek
Hulle is inderhaas na die twee seuns se tent toe maar Raymond was reeds dood. Cornel het nog asemgehaal.
Dit is met groot hartseer dat familie, vriende en medeleerders van twee Graad 12 Monumentare, Raymond Olivier en Cornel Bekker, moes afskeid neem nadat hulle tydens ‘n kampuitstappie vermoedelik weens ‘n lekkende gasbottel versmoor het.

Volgens Hoërskool Monument-woordvoerder, Constance Strydom is die twee leerders Dinsdag, 18 Julie na ‘n kampterrein ongeveer 15km buite Krugersdorp, waarna hulle glo deur die nag visgevang het.
Woensdagoggend het hulle glo die gasverwarmer aangeskakel en gaan slaap. Om 4nm dieselfde dag het ‘n kampterreinwerker verby die tent geloop en ‘vreemde roggelgeluide’ gehoor en dadelik die kampbestuurder gaan roep.

Hulle is inderhaas na die twee seuns se tent toe maar Raymond was reeds dood. Cornel het nog asemgehaal. Hulle het kardiopulmonêre resussitasie op hom toegepas, maar hulle kon nie sy lewe red nie.
Die seuns se afsterwe sal volgens De Jager ‘n groot leemte by almal by Monnas laat. Hulle sal onthou word as dierbare en geliefde seuns. Die skool is dankbaar dat hulle die voorreg gehad het om die seuns te leer ken.
Lees ook: Nuwe hoof wil pad met gemeenskap stap
“Ons innige simpatie aan hul ouers, families en vriende. Mag hulle vertroosting en berusting vind in dié moeilike tyd. Rus in vrede, Raymond en Cornel,” het Strydom namens die skool gesê.
Die skool sal aan die einde van volgende week ‘n huldeblyk aan die leerders lewer waartydens die klok gelui sal word en ‘n predikant die diens sal lei.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
