Die Viljoen-broers ry 6000km vir ‘n ongelooflike doel
Broers Deon en Carel beoog om vir die volgende drie maande al met die grens van Suid-Afrika langs te ry om fondse in te samel.
Op Maandag, 3 Julie het Deon Viljoen, wat destyds vir die Transvaal-rugbyspan uitgedraf het, en sy broer Carel, wat nagenoeg 40 jaar lank ‘n Krugersdorp-inwoner is, hul fietse nader getrek om ‘n 6 000km-reis vir ‘n ongelooflike doel aan te pak.
Deon, 63, en Carel, 65, beoog om vir die volgende drie maande al met die grens van Suid-Afrika langs te ry om fondse ten bate van die Child Witness Foundation in te samel.
“Dink net aan die pyn wat daardie kinders moet ervaar. Die pyn wat ek in my bene en lyf gaan voel terwyl ons ry is niks in vergelyking daarmee nie,” het Deon vertel.
Hulle het van die Vryheid-tak van die Round Table se klubhuis vertrek en beplan om weer op 14 Oktober in Vryheid terug te wees. Dié vereniging het die insameling geloods, en die Viljoen-broers vir dié doel genader. Hulle ry egter sonder ‘n ondersteuningspan en maak staat op die welwillendheid van barmhartige Suid-Afrikaners.
Die Viljoen-broers is reeds meer as twee weke lank op die pad en het gesê hulle is nog nie moeg nie, ten spyte van ‘n paar terugslae.
Op Woensdag, 19 Julie is hulle reeds 17 dae aan die trap en is reeds deur Piet Retief, Amsterdam, Warburton en Badplaas waartydens hulle voor talle uitdagings en steil opdraandes te staan gekom het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
