Partytjietyd by Boltonia Park
Die geleentheid is moontlik gemaak deur My Family wat talle borge betrokke gekry het wat die kinders onder meer voorsien het van kos, lekkers en koeldrank.
Op Dinsdag, 18 Julie is Boltonia Park omskep in ‘n lekkernyland toe meer as 200 minderbevoorregte kinders van Boltonia, Krugersdorp-Wes en Munsieville uit hul sokkies bederf is.
Die geleentheid is moontlik gemaak deur My Family – ‘n niewinsgewende organisasie wat sorg vir minderbevoorregte kinders en bejaardes in nood. Hulle het talle borge betrokke gekry wat die kinders onder meer voorsien het van kos, lekkers en koeldrank.

Woolworths Cradlestone en Key West, Panarottis Key West, Spur Key West, Popcorn Whizz, Sundeal, Pam Golding Eiendomme, Hermies, Vleispot, Silvino’s-slaghuis, Riaan en Eldorain Muller wat die kinders van Munsieville vervoer het, en Jollige Jakkers was die borge wat meer as net hul 67 minute ten volle benut het.
Die parkie was kort voor lank gevul met laggende kinders wat met warm harte en vol mae rondhardloop en gespeel het.

“Ons is baie bevoorreg om soveel borge en helpende hande van oral af te kon kry.
Dit was werklik ‘n dag soos oudpresident Nelson Mandela sou wou gehad het – om al die kindertjies gelukkig te sien en om te weet dat dié wat honger ly ook iets kry om te eet,” het Wayne Muller, vrywilliger van My Family vertel.
Aangesien die organisasie nog net drie maande aan die gang is, is dit hul eerste Mandeladag saam met die gemeenskap. Volgens Wayne was dit ‘n reuse sukses.
“Met volgende jaar se Mandeladag wil ons iets nóg groter reël, iets soos ‘n lekker groot konsert, aangesien daar reeds vanjaar soveel meer kinders opgedaag het as wat ons verwag het,” het hy vertel. “Die kinders het dit so geniet.
Dit was die beste gevoel om soveel glimlaggies te sien; dis werklik meer as waarvoor ‘n mens kon vra. As die kinders gelukkig is, is almal gelukkig.”

Hulle bedank graag almal wat gehelp het om die dag moontlik te maak, asook vir Whitey Moleba, Wyk 26-raadslid wat die dag saam met hulle deurgebring het.
Indien u enige bydrae aan die liefdadigheidsorganisasie wil lewer, skakel gerus vir Wayne by 065 803 9679.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at krugersdorpnews@caxton.co.za or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister websites:
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!
