Daklose gemeente sukkel om die mas op te kom
Pastoor wil ander kerke waarsku om seker te maak dat hulle die fynskrif van hul versekeringspolisse lees.
Die kerkgebou van die Volle Evangelie Kerk van God, Rant-en-Dal is al ‘n paar maande sonder ‘n dak nadat hul versekering nie die volle bedrag uitbetaal het van die eis wat ingedien is nie.
Dié gebou, wat in 1981 voltooi is, is in 1983 deur die Volle Evangelie Kerk gekoop. Volgens pastoor Buks Hendrikz was daar die afgelope 33 jaar geen probleme met die gebou nie. In Januarie verlede jaar het ‘n erge haelstorm egter ‘n gedeelte van die dak beskadig.
“Ons het dit by die versekering aangemeld, maar hulle het gemeen dat ons dak se helling foutief was, en dat ons dit nie onderhou nie,” het hy gesê.
Hy het vertel dat die dak met Harvey-teëls bedek was, wat geen verdere onderhoud verg nie.
Nege maande later, in Oktober, het nog ‘n haelstorm verdere skade aangerig. Hendrikz het vertel dat die hael dié keer ‘n yslaag van 15 tot 30cm dik op die dak gevorm het. Volgens ‘n ingenieur het dit tussen 45 en 60 ton geweeg, en het die dakteëls laat meegee. Die gesmelte ys het gevolglik deur die teëls na die plafon gesyfer, waarvan 800m² beskadig is en later ook meegegee het.

“Die dispuut oor die vorige insident was nie eers opgelos nie, toe word die gebou deur die tweede haelstorm getref. Nadat die versekering die eis die vierde keer afgekeur het, het ons toe geen ander keuse gehad nie as om die hele dak te verwyder voordat dit die mure ook kant toe druk en laat intuimel,” het hy vertel.
Die versekering wel ‘n baie klein bedrag uitbetaal aangesien hulle die dakplanne betwyfel het. Volgens Hendrikz het die stadsraad destyds dieselfde planne goedgekeur en afgeteken.
“Dis moeilik om te glo dat hulle ons eis op sulke tegniese punte kon afkeur. Daar was geen tekens van verrotte hout, termiete of lekke nie. Hulle het net gekyk na die finansiële implikasies wat dit vir hulle inhou – hulle het glad nie na óns as gemeente gekyk nie,” het Hendrikz gesê.

“Dis ook baie vreemd omdat ons polisse sedertdien hernu is. Nou sit ongeveer 100 gemeentelede sonder ‘n kerkgebou.”
Die versekeringsombudsman het ook die uitbetaling afgekeur en die gemeente trek steeds swaar.
Hendrikz is ook bewus van talle ander kerke in die streek wat onder dieselfde probleem gebuk gaan. Hy wil ook ander kerke waarsku om seker te maak dat hulle die fynskrif van hul versekeringspolisse lees.
Die gemeente probeer nou gereeld fondsinsamelings hou om hul geliefde kerk te herbou, en sal enige donasies waardeer.
Indien u kan help, skakel gerus vir pastoor Buks Hendrikz by 076 657 2086 of stuur ‘n e-pos na buks@mdmitchell.co.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
